18. Ek sal riviere tussen die droë berge deur laat loop. Ek sal fonteine onder in die laagtes laat uitborrel. Ek sal waterpanne in die woestynwêreld gee. Daar sal waterstrome deur droë gebiede vloei.
19. Ek sal sederbome in die woestyn laat groei. Daar sal akasias, mirtebome en olyfbome staan. Waar dit heeltemal droog is, sal Ek sipresse, plataanbome en dennebome plant.
20. Dan sal almal sien wat gebeur het. Hulle sal insien en erken dat dit die Here is wat die wonderwerk laat gebeur het. Die hoë God van Israel het die onmoontlike reggekry.
21. Die Here sê vir die afgode: Kom stel nou julle kant van die saak. Kom wys wat julle kan doen, sê Jakob se Koning.
22. Kom vertel vir ons wat nog vorentoe gaan gebeur. Verduidelik vir ons wat beteken die dinge wat in die verlede gebeur het. Ons sal dan weet wat alles beteken wat nog vorentoe moet gebeur.