2. Toe Hiskia dit hoor, het hy met sy gesig na die muur toe gedraai en gebid:
3. “Ag, Here, dink tog daaraan dat ek my bes probeer het om vir U te leef. Ek was my hele lewe aan U getrou en ek het altyd gedoen wat U wou hê ... ” en toe het sy gemoed te vol geword om verder te bid.
4. Die Here het toe vir Jesaja gesê:
5. “Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het gehoor wat jy gebid het en Ek sien jou hartseer. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe.
6. Wat meer is, Ek sal jou en die stad beskerm teen die koning van Assirië. Hy sal niks aan julle kan doen nie.
7. Ek gee vir jou ’n teken om te bewys dat Ek my woord hieroor sal hou.
8. Ek sal die skaduwee op die sonwyser wat koning Agas nog opgesit het, met tien trappe laat terugskuif.” Dit is presies wat gebeur het: die skaduwee het tien trappe teruggeskuif op die sonwyser.
9. Nadat Hiskia gesond geword het, het hy hierdie gedig geskryf om te vertel wat met hom gebeur het:
10. Ek het gedink dat ek in my beste jare sou doodgaan en begrawe sou word, dat ek nie kans sou kry om ’n vol lewe te leef nie.
11. Ek het gedink dat ek nooit in my lewe hier op aarde weer die Here sou sien nie,dat ek maar my vriende sou moes groet.
12. Dit het vir my gevoel of my lewe in ’n oogwink van my af weggeruk word,soos wanneer ’n rukwind skielik ’n tent uit die grond uitruk en dit wegwaai,asof my lewe kortgeknip is soos die oortollige wol van ’n weefraam wat afgeknip word nadat die mat klaar geweef is. My lewe was verby!
13. Ek het probeer om nie te kla nie,maar die pyn het my oorweldig;dit het aangehou vreet aan my soos ’n leeu wat aanhou kou aan die bene van sy prooi. My lewe was verby!