8. Op pad terug van Jerusalem af het die Assiriese amptenaar gehoor dat Sanherib uit Lakis uit weg is en besig was om teen Libna te veg. Hy is toe soontoe om met hom te gaan beraadslaag oor wat in Jerusalem gebeur het.
9. Nie lank daarna nie het nog ’n berig by Sanherib aangekom. Die berig het gesê dat Tirhaka, die koning van Kus, op pad was om hom aan te val. Voor hy daar weg is om teen Tirhaka te gaan veg, het hy weer vir Hiskia ’n boodskap gestuur:
10. “Moenie dat jou God jou mislei met praatjies dat ek nie in staat is om Jerusalem in te neem nie.
11. Jy weet baie goed dat die konings van Assirië nog altyd elke land verwoes het wat hulle aangeval het. Wat maak jou so anders?
12. Was daar enige van die ander volke se gode wat hulle mense kon red? My voorgangers het hulle almal vernietig. Noem hulle op: Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar.
13. Waar is die konings van Hamat, Arpad, Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14. Nadat Hiskia die boodskap gelees het, is hy tempel toe daarmee. Daar het hy die brief vir die Here voorgelees
15. en gebid:
16. “Almagtige Here, God van Israel, U wat op u troon bokant die gerubs sit, U alleen is God van al die koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.