Jesaja 28:17-21 Die Boodskap (DB)

17. Ek gaan die meetstok van reg en die waterpas van geregtigheid gebruik om julle bouwerk te toets. Julle dink julle mure is stewig, maar omdat dit op leuens gebou is, sal dit verkrummel soos wanneer ’n haelstorm deur ’n gebied trek en verwoesting saai. Omdat dit op bedrog rus, sal die vyand kom en soos ’n vloedgolf daaroor spoel.

18. Dan sal daar van julle sogenaamde ooreenkoms met die dood en julle onsterflikheid net mooi niks oorbly nie. As die aanvallers op julle afstorm, sal hulle julle met die grond gelykmaak.

19. Weer en weer sal hulle aanval, sonder ophou, dag na dag, enige tyd van die dag of nag. Iemand wat hierdie boodskap verstaan, sal angsbevange raak.

20. Al julle planne sal niks help nie. Dit is soos die spreekwoord wat sê dit help nie om jou te probeer uitstrek op ’n bed wat te kort is of om jou behoorlik te probeer toemaak met ’n kombers wat te klein is nie.

21. Net soos die Here by die berg Perasim die Filistyne in sy woede platgeloop het en by Gibeon die Ammoriete verslaan het, so kom die Here nou met sy volk afreken. So vreemd as wat dit klink, die Here sal doen wat Hy moet doen.

Jesaja 28