15. In die ooste vereer hulle Hom. Selfs die mense wat langs die kus bly, loof die Naam van die Here, die God van Israel.
16. Van die uithoeke van die aarde af hoor ons liedere om die regverdige God se mag te besing. Maar my gemoed is swaar. Ek is ontnugter, want oral is bedrog aan die orde van die dag en oneerlikheid kraai koning.
17. Luister na my, daar wag angs en slaggate en strikke vir die mense van die aarde.
18. Dié wat van die gevaar af probeer weghardloop, beland in ’n slaggat en dié wat uit die slaggate wegkom, word in ’n strik gevang. As die wolkbreuke en die aardbewings losbars,
19. sal die aarde uitmekaarbars en oopskeur.
20. Die aarde sal steier en struikel soos ’n dronk mens en heen en weer geslinger word in die wind soos ’n tent in ’n storm. Die wêreld se skuld is so swaar dat dit hom platdruk. As hy val, sal hy nie weer kan opstaan nie.
21. Op dié dag sal die Here die magte bo in die hemel straf en op die aarde sal Hy die regeerders straf.
22. Hulle sal bymekaargemaak word soos gevangenes wat tronk toe gaan. Daar sal hulle vir lank opgesluit word voordat hulle verhoor en gestraf word.
23. Dan sal die Here die Almagtige sy troon op die berg Sion in Jerusalem bestyg en in mag en heerlikheid regeer. Al die leiers van die wêreld sal dit sien. Sy mag en heerlikheid sal so geweldig wees dat dit die son en die maan dof sal laat lyk.