Jesaja 10:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Alhoewel Ek Assirië se militêre mag gebruik soos ’n stok waarmee Ek die volke kan slaan, wag daar vir hulle ook swaarkry omdat hulle die mag wat Ek hulle gegee het, misbruik het.

6. Ek het Assirië na my goddelose volk toe gestuur omdat Ek vir hulle kwaad was, met die opdrag om hulle te beroof en die mense soos modder in die strate te vertrap.

7. Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei.

8. Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het.

9. Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie.

10. Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria.

11. Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!”

12. Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself.

13. Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap.

14. Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.”

Jesaja 10