Jeremia 50:23-43 Die Boodskap (DB)

23. Die Babiloniërs was soos ’n groot hamer wat die wêreld se mense verpletter het. Nou is dit hulle beurt om stukkend geslaan en gebreek te word. Die nasies sal hulle doodskrik as hulle die toestand van die Babiloniërs sien.

24. Ek het vir jou ’n strik gestel, Babel, en jy het daarin getrap sonder dat jy eers geweet het. Jy is gevang omdat jy My, die Here, probeer aanvat het.”

25. Die Here het die bêreplek van sy wapens oopgemaak. Hy het wapens uitgehaal wat Hom sou help om sy woede teen sy vyande te laat uitkom. Hy sê: “Ek, die Here, het ’n werk wat Ek in die land van die Babiloniërs wil doen.

26. Val die Babiloniërs van alle kante af aan. Breek die skure oop waar hulle die graan bêre. Maak die mense op ’n hoop bymekaar soos ’n hoop graan. Vernietig alles! Laat niks en niemand oorbly nie!

27. Vat selfs die bulle na die slagplek en maak hulle daar dood. ’n Baie, baie slegte tyd het vir Babel gekom. Die tyd van hulle straf het gekom.”

28. Luister wat die mense wat uit Babel ontsnap het, te sê het. Hulle vertel in Jerusalem hoe die Here ons God wraak geneem het op die mense wat sy tempel vernietig het.

29. Stuur jou gewapende manne na Babel. Laat hulle die stad omsingel sodat niemand kan ontsnap nie. Doen aan die Babiloniërs wat hulle aan ander mense en lande gedoen het. Hulle verdien dit, want hulle dink te veel van hulleself. Hulle het die Here se gesag uitgedaag. Daar is niemand wat soos Hy is nie. Hy is die Here van Israel.

30. Die jongmense sal in die strate neerval en doodgaan. Al die Babiloniese soldate sal daardie dag sterf.

31. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê vir die Babiloniërs: “Julle is arrogant. Ek is julle vyand. Die tyd het gekom dat Ek julle gaan straf.

32. Julle is verwaand. Julle sal struikel en val. Daar is niemand wat julle sal help om weer op te staan nie. Ek sal julle stede aan die brand steek. Alles wat naby hierdie vuur is, sal afbrand.”

33. Die Here sê: “Die mense van Israel en Juda is nie reg behandel nie. Die vyand wat hulle gevang het, het geweier om hulle vry te laat.

34. Maar daar is iemand wat hulle help om vry te kom. Hy is baie sterk. Hy is die Here wat sterker as alles en almal is. Hy sal hulle belange op die hart dra en sorg dat hulle rus en vrede in hulle land sal hê. Die vooruitsigte vir die mense van Babel is nie goed nie. Hulle sal nie rus en vrede hê nie, maar probleme.

35. Daar wag oorlog en dood vir die leiers van die Babiloniërs. Maar nie net vir hulle nie, ook vir die raadgewers en al die mense van Babel.

36. Daar wag oorlog vir die waarsêers. Hulle sal gekke van hulleself maak oor wat hulle voorspel. As die oorlog begin, sal die soldate bewe van angs.

37. Selfs die soldate wat met perde en strydwaens ry, sal soos papbroeke reageer. Dieselfde sal ook met hulle huursoldate gebeur. In die oorlog sal al hulle kosbare goed ook gesteel word.

38. Dit sal selfs ook hulle water raak. Die water sal opdroog. Die rede hoekom al hierdie dinge gebeur, is die afgode. Die hele land is vol afgode en die mense is dol oor hulle.”

39. Die Here sê: “Wilde diere sal Babel hulle blyplek maak. Daar sal nooit weer mense wees wat daar bly nie, maar hiënas en volstruise sal daar bly.

40. Ek sal Babel verwoes net soos Ek destyds met Sodom en Gomorra gemaak het. Daar sal nie meer mense wees wat daar bly nie. Selfs nie eens net vir ’n rukkie nie.”

41. Die Here sê: “Wees gewaarsku, ’n volk uit die noorde is op pad na julle toe, Babel. Dit is ’n groot, sterk nasie. Baie konings uit die verste dele van die aarde is besig om reg te maak om teen julle op te trek.

42. Hulle het al die wapens wat nodig is om te veg. Hulle is baie wreed en sal niemand spaar nie. Die troepe ry op perde en dit klink soos die see wat dreun as hulle aankom. Hulle is goed georganiseerd en reg om julle aan te val, mense van Babel.

43. Die nuus het by die koning van Babel uitgekom dat ’n mag besig was om teen hulle op te trek. Dit het hom lam van vrees gemaak. So erg was dit dat hy verskriklike angs en pyne begin kry het.”

Jeremia 50