7. Die Here wil by Juda weet: “Hoe kan Ek julle vergewe? Selfs julle kinders het teen My in opstand gekom. Hulle beloof om getrou te wees aan gode wat nie eens regte gode is nie. Ek het nog altyd baie goed vir hulle gesorg. En hoe wys hulle hulle dankbaarheid? Hulle loop agter ander gode aan en is net soos mense wat tyd by bordele deurbring.
8. Of hulle is soos goedversorgde perde wat altyd op soek is na ’n merrie, soos mans wat ’n buurman se vrou wil hê.
9. Moet Ek hulle nie hieroor straf nie? Moet Ek nie wraak neem op hulle nie?” wil die Here weet.
10. Die Here sê: “Juda is soos ’n wingerd. Ek stuur ’n vyand deur die wingerd om dit te verniel. Maar hulle moet nie die hele wingerd verwoes nie. Die lote wat nie aan My behoort nie, moet afgesny word.
11. Die mense van Israel en Juda het My totaal en al verraai.
12. Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie.
13. Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’”
14. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.”
15. Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie.
16. Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk.
17. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.”
18. Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie.
19. As die mense sou vra waarom doen die Here hierdie dinge aan ons, moet julle antwoord: ‘Ons het die Here verraai en ander vreemde gode hier in ons eie land begin dien. Nou sal ons vreemde mense in ’n vreemde land moet dien.’”