2. Hulle sweer vals, selfs al gebruik hulle die Naam van die Here om te maak of hulle die waarheid praat.”
3. Here, U verwag van mense om eerlik te wees. U het u mense al ’n slag gestraf, maar dit het geen indruk op hulle gemaak nie. U het hulle verpletter, maar hulle wou nie leer nie. Hulle is hardkoppige mense, hulle weier om die verkeerde goed wat hulle doen te los en gehoorsaam aan U te wees.
4. Eers het ek gedink: “Wat kan ’n mens nou ook eintlik van arm en eenvoudige mense verwag? Hulle weet nie van beter nie. Hulle besef nie regtig wat die Here van hulle verwag nie.
5. Ek sal met die leiers gaan praat. Ek is seker hulle weet wat dit van ’n mens vra om die Here te dien en wat die vereistes is wat Hy stel.” Maar hulle was maar net soos die ander, sonder kennis en insig. Hulle het in opstand gekom en geweier om die Here te gehoorsaam.
6. Daarom sal Juda se vyand hulle soos roofdiere aanval. Hulle is soos leeus wat in ’n bos lê en dan uitkom om mense dood te maak. Soos woestynwolwe wat ander verskeur. Soos ’n luiperd wat naby die stede lê en loer en enigiemand wat dit waag om uit te kom uitmekaarskeur. Dit sal gebeur omdat hulle so baie goed verkeerd doen en dislojaal aan die Here is.
7. Die Here wil by Juda weet: “Hoe kan Ek julle vergewe? Selfs julle kinders het teen My in opstand gekom. Hulle beloof om getrou te wees aan gode wat nie eens regte gode is nie. Ek het nog altyd baie goed vir hulle gesorg. En hoe wys hulle hulle dankbaarheid? Hulle loop agter ander gode aan en is net soos mense wat tyd by bordele deurbring.
8. Of hulle is soos goedversorgde perde wat altyd op soek is na ’n merrie, soos mans wat ’n buurman se vrou wil hê.
9. Moet Ek hulle nie hieroor straf nie? Moet Ek nie wraak neem op hulle nie?” wil die Here weet.
10. Die Here sê: “Juda is soos ’n wingerd. Ek stuur ’n vyand deur die wingerd om dit te verniel. Maar hulle moet nie die hele wingerd verwoes nie. Die lote wat nie aan My behoort nie, moet afgesny word.
11. Die mense van Israel en Juda het My totaal en al verraai.
12. Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie.
13. Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’”
14. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.”
15. Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie.
16. Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk.
17. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.”
18. Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie.