Jeremia 48:32-47 Die Boodskap (DB)

32. Sibma is bekend vir sy wingerde. Ek treur meer oor Sibma se mense as oor Jaeser. Die takke van julle wingerd het vroeër so ver uitgesteek dat dit selfs tot by die Dooie See en Jaser gekom het. So wyd was julle mense versprei. Maar nou het ’n vyand wat julle wil verwoes, op julle toegesak. Hulle help hulleself aan julle somervrugte en julle druiwe.

33. Moab was eens op ’n tyd ’n vrugbare plek. Maar nou het al die blydskap en vreugde uit Moab verdwyn. Julle blydskap is van julle af weggevat. Ek het gesorg dat daar nie meer wyn uit die wynpers kom nie. Daar is ook nie meer mense wat opgewek gesels terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat skree, maar hulle doen dit nie omdat hulle bly is nie.

34. Om die waarheid te sê, die mense gil en skree van angs omdat hulle bang is. Die krete kan duidelik van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas gehoor word. Verder ook weer van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.”

35. Die Here sê: “Ek sal dit stopsit dat mense na plekke toe gaan waar hulle offers bring en wierook brand om hulle gode op so ’n manier te eer.

36. In my hart voel Ek bitter jammer vir Moab en vir die mense van Kir-Geres. My gevoel is soos wanneer ’n mens die hartseer klanke van ’n fluit hoor. Ek voel hartseer, want al hulle rykdom is weg.

37. Hulle doen alles wat die mense gewoonlik doen as hulle rou. Almal loop met ’n kaalgeskeerde kop en met baarde wat afgesny is. Hulle het snymerke aan hulle hande en hulle dra klere van sak.

38. Oral in Moab is mense besig om te huil asof iemand dood is. Hulle doen dit op die plat dakke van hulle huise en op die pleine in die stede waar die mense altyd bymekaarkom. Hulle doen dit,” sê die Here, “omdat Ek hulle gebreek het soos ’n kleipot wat niemand meer gebruik of voor omgee nie.

39. Ag, hoe stukkend is Moab! Hoor hoe huil hulle! Moab is soos iemand wat wegdraai van ander omdat hy skaam is. Moab se bure dryf die spot met hulle. Maar as hulle al die verwoesting in Moab sien, skrik hulle.”

40. Die Here sê: “Die vyand sal Moab aanval net soos ’n arend wat vinnig met uitgespreide vlerke op ’n prooi afduik.

41. Hulle sal die stede van Moab inneem en die versterkte skuilplekke oorneem. Daardie dag sal die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.

42. Moab sal verwoes word en nie langer as ’n nasie beskou word nie omdat hulle arrogant teenoor My, die Here, opgetree het.”

43. Die Here sê: “Vir julle wag daar vreeslike dinge, vanggate en lokvalle, Moab.

44. As daar mense is wat van dié vreeslike dinge probeer wegvlug, sal hulle in ’n lokval beland. En dié wat so gelukkig is om die lokval te mis sal in ’n vanggat val. Ek sal sorg dat nie een van julle wegkom nie. Die tyd het gekom dat Moab gestraf moet word.

45. Van die mense wat vlug, sal net so ver as Gesbon kom voordat hulle krag op is. Hulle sal nie verder kan gaan nie, want Gesbon, wat koning Sihon se stad is, is aan die brand. Hierdie vuur sal die hele land saam met al die mense wat opstandig is, verwoes.

46. Hoe ’n tragiese geval is Moab nie! Julle het op julle god Kemos vertrou, maar dit het julle niks gehelp nie. Julle is vernietig! Die vyand het al julle kinders gevang en uit julle land weggevat.

47. Maar eendag in die toekoms sal Ek weer Moab se omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit sal so wees!”So eindig die boodskap oor die straf van Moab.

Jeremia 48