Jeremia 48:17-26 Die Boodskap (DB)

17. Almal wat naby aan Moab bly, kan solank begin huil oor hierdie land. Julle wat die reputasie van Moab ken, kan sê: ‘Die septer en die staf wat gewys het hoe sterk en trots die regering van Moab was, is nou gebreek.’

18. Julle wat in Dibon bly, klim van julle troontjie af en kom sit in die stof. Die vyand wat Moab vernietig, kom ook om teen julle te baklei. Die sterk plekke wat julle gebou het om julle teen julle vyande te beskerm is al klaar verwoes.

19. Julle wat in Aroër bly, julle moet langs die pad gaan staan en kyk wat gebeur. Vra ’n bietjie vir die mense wat dit regkry om van die vyand af weg te kom wat het daar in Moab gebeur.

20. Die antwoord is: ‘Huil en roep van hartseer uit, want Moab se mag is gebreek. Vertel vir almal, selfs tot by die Arnonrivier, dat Moab verwoes is!’

21. Die straf vir die stede op die hoogland het aangebreek. Die stede is Golon, Jahas, Mefaät,

22. Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23. Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon,

24. Kerijot en Bosra. Al Moab se stede wat naby en ver is, sal so gestraf word.

25. Moab het sy krag verloor. Die land is magteloos soos ’n bul waarvan die horing afgesny is of soos iemand wie se arm gebreek is,” sê die Here.

26. Hy sê ook: “Laat Moab slinger en val soos ’n dronk mens, want hy hou hom opstandig teen My. Laat Moab in sy eie braaksel rol sodat ander hom sal spot.

Jeremia 48