Jeremia 37:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, dit sal niks help nie. Hulle sal doodgewoon optrek en Jerusalem aan die brand kom steek.”

11. Die leër van die Babiloniërs het teruggetrek van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was.

12. Jeremia wou toe weggaan van Jerusalem af na die grondgebied van Benjamin. Hy wou gaan kyk het na die stuk grond daar wat sy erfdeel sou wees.

13. Maar toe Jeremia by die Benjaminhek wou uitgaan, het ’n wag met die naam Jirija hom gevang en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.

14. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie waar nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs toe oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die senior amptenare toe gebring.

15. Hulle was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Sy huis is in ’n tronk verander.

16. Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit. Daar het hy ’n baie lang tyd gebly.

17. In ’n later stadium het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou by hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my, Jeremia?” Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het ’n boodskap vir u! U sal aan die koning van Babel oorgegee word.”

18. Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?

19. Waar is daardie profete nou wat vir u gesê het dat die koning van Babel nie teen u of hierdie land sal optrek nie?

20. U Majesteit, ek smeek u. Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis toe terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.”

21. Koning Sedekia het toe opdrag gegee dat hulle Jeremia nie moes terugstuur na die tronk waar hy eers was nie. Hulle het hom na die gedeelte van die paleis gevat waar die wagte gebly het. Die koning het ook opdrag gegee dat hulle elke dag vir Jeremia ’n brood moes gee wat van die bakkery af kom. Hulle moes daarmee aanhou solank daar nog brood in die stad te kry was. So is Jeremia dan in die wagte se deel van die paleis aangehou.

Jeremia 37