Jeremia 32:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14. “Die Here, die God van Israel, is sterker as alles en almal. Hy het gesê: ‘Vat die verseëlde en die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd gebêre kan word.

15. Want eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

16. Toe ek die koopkontrak vir Baruk gegee het, het ek gebid en gesê:

17. “Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is te moeilik vir U om te doen nie!

18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar dit is ook so dat U die kinders straf vir die verkeerde goed wat hulle ouers gedoen het. Here, u mag is baie groot. Mense praat van U as die Here wat sterker as alles en almal is.

19. U is slim. U weet alles. U kan ook goed doen wat vir die mense te wonderlik is om te verstaan. Daar is niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het.

20. Destyds het U in Egipte buitengewone dinge gedoen. U het tekens en wonders gedoen. U doen dit nog steeds vandag in Israel en onder alle mense. Selfs vandag is U steeds daarvoor bekend.

21. “Toe U Israel uit Egipte gebring het, het U dinge gedoen wat groot en wonderlik is. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het die vyand verskriklik bang gemaak.

22. U het hierdie land aan die mense van Israel gegee. Reeds baie jare terug het U aan hulle voorouers belowe dat U vir hulle ’n land sou gee. Dit sou ’n vrugbare land wees waar melk en heuning volop sou wees.

Jeremia 32