Jeremia 30:2-14 Die Boodskap (DB)

2. Hy het gesê: “Die Here is die God van Israel en Hy sê: Skryf alles wat Ek vir jou gesê het, in ’n boek.

3. Die tyd kom dat Ek dinge vir my mense weer sal maak soos dit vroeër was. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het. Hulle sal weer aan die land dink as hulle eie en hier bly.”

4. Dit is wat die Here vir Israel en Juda te sê het.

5. Hy sê: “Ek het die angstige uitroepe van my mense gehoor. Daar is vrees en geen kalmte nie.

6. Ek wil ’n vraag vra: Kan mans babas hê? Nou waarom staan hulle dan bleek in die gesig met hulle hande op hulle heupe soos ’n vrou wat kraampyne voel?

7. Dit is ’n verskriklike tyd wat die mense beleef. Nog nooit in die geskiedenis het mense sulke dinge deurgemaak nie. Dit is ’n tyd van baie probleme vir die mense van Israel. Maar op die ou einde sal hulle uit die moeilikheid gered word.

8. In dié tyd sal Ek die juk breek wat op my mense se nek druk. Ek sal ook die kettings waarmee hulle vasgemaak is, uitmekaar laat spat. Geen vreemde mense sal meer oor hulle baasspeel nie. Ek is die Here wat sterker as alles en almal is!

9. Die mense van Israel sal net vir My as hulle God dien. Verder sal hulle ook net vir iemand uit Dawid se familie as hulle koning dien. Ek sal hom as hulle koning aanstel.”

10. Die Here sê ook: “Israel, julle moet nie bang of angstig wees nie. Ek sal julle en julle kinders terugbring uit die land waarheen julle weggevat is, al is dit ook ver. Israel, julle sal weer rus en vrede in julle eie land hê. Julle sal vir niemand bang hoef te wees nie.

11. Wees gerus, Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek sal julle uit die hande van julle vyande red. Julle is oral versprei onder die nasies. Hulle sal Ek vernietig, maar julle sal nie vernietig word nie. Maar hoewel Ek julle nie sal vernietig nie, gaan Ek julle nogtans straf. Ek sal julle ’n regverdige straf gee.”

12. Die Here sê ook: “Julle toestand is soos ’n wond wat nie gesond kan word nie. ’n Mens kan maar net daaroor huil.

13. Daar is niemand wat julle kan help nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde nie. Verder is daar geen hoop dat julle gesond sal word nie.

14. Al die mense met wie julle ooreenkomste aangegaan het om julle te help, het julle in die steek gelaat. Hulle gee nie om wat van julle word nie. Ek het julle aangeval soos ’n mens met ’n vyand sou maak. Ek het julle sonder enige genade gestraf. Julle het baie verkeerde dinge gedoen. Julle is aan soveel goed skuldig, dit is te veel om op te noem.

Jeremia 30