Jeremia 26:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te praat? Hoe kan jy sê dat die tempel net soos wat met Silo gebeur het, vernietig sal word? Wie is jy om te sê dat Jerusalem verlate en sonder enige mense sal wees?” Die mense wat daar voor die tempel om Jeremia saamgedrom het, het hom gedreig met hulle houding.

10. Die leiers van Juda was in die paleis toe hulle die nuus hoor van wat voor die tempel gebeur het. Hulle het haastig van die paleis af na die Nuwe Ingang van die tempel gegaan. Daar het hulle ’n vergadering gehou.

11. Die priesters en die profete het toe vir die leiers van Juda en al die mense wat daar rondgestaan het, gesê wat hulle dink. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor wat hy gesê het. Hy het gesê slegte goed gaan met Jerusalem gebeur.”

12. Toe het Jeremia homself begin verdedig teenoor die leiers en die mense. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur met die boodskap wat met die tempel en met Jerusalem gaan gebeur. Elke liewe woord wat ek gepraat het, het die Here vir my gegee om te sê.

13. Maar as julle nou ophou om verkeerde goed te doen en begin doen wat die Here julle God van julle verwag, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gesê het Hy gaan doen nie.

14. Met my moet julle maar maak soos julle goeddink. Ek is in julle hande uitgelewer.

15. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige mens dood. Julle, hierdie stad en al die mense van die stad sal die gevolge moet dra as julle dit doen. Ek praat die waarheid as ek sê dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge vir julle te kom sê.”

16. Toe het die leiers van Juda en die gewone mense vir die priesters en die sogenaamde profete van die Here gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie. Hy het namens die Here ons God met ons kom praat.”

17. ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense gepraat wat daar bymekaar was.

18. Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset vir al die mense van Juda boodskappe van die Here gebring het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het gesê: ‘Die Here is sterker as alles en almal en Hy sê: Sion sal soos ’n veld omgeploeg word. Jerusalem sal ’n hoop bourommel word. ’n Groot bos sal op die heuwel groei waar die tempel eers gestaan het.’

19. Het koning Hiskia en die mense van Juda vir Miga doodgemaak omdat hy hierdie dinge gesê het? Nee, die koning het groot respek vir die Here gehad. Hy het in sy goeie boekies probeer kom. Die Here het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos Hy eers wou doen nie. As ons Jeremia doodmaak, wie weet wat kan ons tref?”

Jeremia 26