Jeremia 10:7-23 Die Boodskap (DB)

7. Is daar enige mense wat nie besef dat U gerespekteer moet word nie? U is dan die Koning van volke. Dit is net U wat hierdie eer verdien! Daar is niemand wat so slim en verstandig soos U is nie, nie in enige land van die wêreld of onder mense op die aarde nie.

8. Mense wat afgode vereer, is dom en verspot. Afgode wat uit hout gemaak is, kan ’n mens mos niks leer nie!

9. Dit maak geen verskil dat die gode versier is met die fynste silwer uit Tarsis of suiwer goud uit Ufas nie, dit bly maar iets wat ambagsmense gemaak het. Hulle trek hierdie gode ook klere aan wat uit baie duur materiaal gemaak is; tog bly dit steeds die werk van kunstige mense.

10. Maar die Here is die enigste ware God. Hy is die God wat lewe en sal vir altyd Koning bly! As Hy kwaad is, bewe die aarde van vrees. Die nasies kan nie weerstand bied teen sy woede nie.

11. Julle moet vir die mense wat afgode vereer, sê: “Hierdie kastige gode het nie die hemel en die aarde gemaak nie. Hulle sal van die aarde af verdwyn.”

12. Dit is die Here wat deur sy krag die aarde gemaak het. Met sy kennis het Hy gesorg dat die aarde vas staan en dat alles op die aarde op die plek is waar dit hoort. Dit is ook Hy wat beplan het dat die hemel so oopgesprei sal lê.

13. As Hy praat, klink dit soos die gedreun van donderweer in die hemel. Dit is ook Hy wat die mis laat opstyg uit die aarde. Dit voel vir ’n mens of dit van iewers ver op die aarde af moet kom. Die Here stuur ook die weerlig saam met die reën. Hy stuur ook die wind van ’n plek af wat iets soos ’n stoorkamer moet wees.

14. As mense nou met Hom vergelyk word, lyk hulle maar dom. Hulle weet net mooi niks! Die goudsmede wat die beelde maak, kom in die verleentheid, want die afgodsbeelde is vals. Hulle het nie krag nie.

15. Die afgode is net mooi niks werd nie. Hulle is niks anders as leuens nie. Die dag wanneer die Here besluit om met hulle af te reken, sal niks van hulle oorbly nie.

16. Maar die God van Israel is nie soos hierdie afgode nie! Hy het alles gemaak, ook vir Israel. Israel is die volk wat Hy spesiaal uitgesoek het om aan Hom te behoort. Sy Naam is Here en Hy is sterker as alles en almal!

17. Die mense van Jerusalem is deur die vyand omsingel. “Maak julle besittings bymekaar,”

18. sê die Here. “Neem kennis, Ek gaan julle nou uit julle land laat uitgooi. Ek gaan dit vir julle baie moeilik maak, julle sal die druk voel.”

19. Die mense in Jerusalem het gekla: “Dit gaan ellendig met ons, ons is erg seergemaak! Ons kan maar net huil oor ons siek toestand. Ons het gedink: Ja, dit is ’n groot lyding hierdie, maar ons sal dit kan vat en deursien.

20. Ons huise is vernietig. Dit wat ons nog vastigheid gegee het, is tot niet. Ons kinders is van ons af weggevat. Hulle sal nie weer terugkom en seker maak dat ons ’n toekoms het nie.”

21. Ek het geantwoord: “Ons leiers is onnosel. Dit maak nie vir hulle saak wat die Here wil hê hulle moet doen nie. Dit is hoekom dit sleg gaan. Dit is ook hoekom ons mense oraloor verstrooi is.

22. Hoor julle, dit is die dreungeluid van die vyand se leërs wat uit die noorde op pad is. Hulle sal al die stede van Juda verwoes. Die stede sal ’n lêplek vir die jakkalse word.”

23. Ek weet, Here, ’n mens hou nie jou lewe in jou eie hande nie. Niemand het beheer oor wat in die lewe met hom gaan gebeur nie.

Jeremia 10