Handelinge 3:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om te bid. Dit was teen drie-uur die middag.

2. Hulle het by een van die tempel se ingange met die naam Mooipoort ingestap. Daar het ’n man elke dag gesit en bedel. Hy was van sy geboorte af verlam.

3. Toe Petrus en Johannes by hom verbystap, vra hy hulle of hulle nie ’n geldjie vir hom het nie.

4. Petrus het gaan staan. “Kyk na my!” het hy vir die verlamde gesê wat daar voor hom op die grond gesit en staar het.

5. Die man was dadelik die ene oë en ore.

6. “Ek het nie ’n sent op my naam nie,” het Petrus gesê. “Maar ek gaan vir jou iets baie beters gee. Ek sê nou vir jou in die Naam van Jesus Christus: staan op en loop!”

7. Petrus vat toe die man se regterhand en trek hom op. Onmiddellik het sy voete en enkels nuwe lewe gekry sodat hy kon opstaan en loop.

8. Hy het toe saam met hulle by die tempel ingegaan. Hy was so bly dat hy rondgespring het van vreugde terwyl hy hardop lag en huil.

9. Hy het God se Naam aanmekaar grootgemaak. Sy vreugdedanse het gou die ander mense se aandag getrek.

10. Toe hulle agterkom dat dit hy was wat elke dag by die Mooipoort gesit en bedel het, kon hulle hulle oë nie glo nie.

11. Toe die mense ook nog sien hoe die man sy arms om Petrus en Johannes gooi, het hulle almal begin stroom na die Pilaargang van Salomo, waar Petrus-hulle gestaan het.

12. Petrus het toe met die groot skare begin praat wat om hulle saamgedrom het: “Vriende, volksgenote, hoekom is julle so verbaas oor wat so pas gebeur het? Dink julle dalk dat ons hierdie man uit ons eie krag gesond gemaak het? Het dit gebeur omdat ons so godsdienstig is?

13. Natuurlik nie. Al wat gebeur het, is dat die God van Abraham en Isak en Jakob vir Jesus, sy eie Seun, op hierdie manier eer kom aandoen het. Hy het hier voor julle almal kom wys hoe groot en sterk Jesus regtig is.

14. “Onthou julle nog hoe julle nou die dag vir Jesus soos ’n misdadiger aan Pilatus uitgelewer het? Julle het julle rug vir Hom gedraai toe Pilatus julle die keuse gegee het om Hom los te laat. Julle het selfs gevra dat ’n moordenaar losgelaat word eerder as Hy.

Handelinge 3