11. Daar voor almal kom vat hy Paulus se belt en maak dit om sy hande en voete vas. Toe sê hy: “Luister wat die Heilige Gees vir julle sê: ‘Die man aan wie hierdie belt behoort, gaan op presies dieselfde manier in Jerusalem deur die Jode vasgebind word. Dan gaan hulle hom aan die Romeine uitlewer.’”
12. Toe ons dit hoor, was ons baie omgekrap. Ons het Paulus oor en oor gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie, maar hy wou nie na ons luister nie. “Hoekom probeer julle om my van my plan te laat afsien?” het hy ons gevra.
13. “Netnou oorreed al julle gehuil my om nie meer Jerusalem toe te gaan nie. Kom ek sê reguit vir julle: dis glad nie vir my ’n probleem as ek in Jerusalem in die tronk beland nie. Ek gee nie eens om as hulle my doodmaak ter wille van die Here Jesus nie!”
14. Toe ons besef dat ons Paulus nie kon oorreed om weg te bly uit Jerusalem nie, het ons besluit om nie verder met hom daaroor te praat nie. “Ons bid net dat God se wil in jou lewe sal geskied. Mag al sy planne met jou lewe waar word,” het ons vir hom gesê.
15. ’n Paar dae later het ons Jerusalem toe vertrek.
16. ’n Klompie van die gelowiges in Sesarea het saam met ons soontoe gereis. Langs die pad het ons by ’n gelowige met die naam Mnason oorgebly. Hy was al oud. Hy het ons goed ontvang omdat hy goeie vriende was met die gelowiges in Sesarea wat saam met ons gereis het.
17. In Jerusalem was die gelowiges van die stad bly om ons te sien.
18. Die volgende dag het ons en Paulus vir Jakobus gaan kuier. Toe ons by sy huis aankom, was die ander leiers van die gemeente ook daar.
19. Paulus het hulle almal vriendelik gegroet. Hy het dadelik begin om hulle te vertel waar hy oral was en wat hy alles gedoen het. Hy het verduidelik hoe God deur hom gewerk het onder mense wat nie aan die Joodse volk behoort nie.
20. Toe Jakobus en die ander mense dit hoor, het hulle die Here geprys. Toe Paulus klaar was, sê hulle: “Ons het ook goeie nuus. Hier in Jerusalem het duisende Jode ook in Jesus begin glo. Maar hulle onderhou steeds die wet van Moses.”
21. “Paulus, nou het ons ook ’n bietjie slegte nuus. Dit gaan oor jou. Ons moet jou waarsku. Daar word gesê dat jy oral vir die Jode vertel dat hulle nie meer na die wet van Moses hoef te luister nie. Hulle sê dat jy sê Joodse kinders hoef nie meer besny te word nie. Hulle hoef ook nie meer te leef soos ons godsdienstige wet voorskryf nie.
22. “Nou sit ons met ’n groot probleem. Almal in die stad sal binnekort weet jy is hier. En dan gaan hulle die lewe vir ons bitter moeilik maak. Ons eie gemeentelede gaan ons ook daarvan beskuldig dat ons vriendelik is met iemand wat ’n dwaalleer verkondig. Maar ons het ’n oplossing vir die probleem.
23. In ons gemeente is daar vier mans wat ’n ruk terug ’n belofte aan die Here afgelê het. Nou het die tyd aangebreek dat hulle hulle hare moet afskeer. Dis die bewys dat hulle hulle belofte teenoor God nagekom het.
24. Soos jy weet, moet hulle nou na die tempel toe gaan om hulle daar aan die Here te gaan toewy. Hulle moet ook ’n offer aan Hom bring, wat ’n klompie geld kos. Ons wil hê jy moet saam met hulle na die tempel toe gaan. Betaal die geld vir hulle offers.“Gaan eers na ’n priester toe in die tempel. Hy sal jou elke paar dae met ’n bietjie water besprinkel. Dit vat ’n week. Na hierdie tyd kan jy dan die offers namens daardie vier mans betaal. Dan sal almal sien dat jy nog steeds luister na die wet van Moses.