Handelinge 17:26-31 Die Boodskap (DB)

26. Dit alles het begin toe Hy lank terug die heel eerste mens gemaak het van wie al die volke afstam wat nou op die aarde woon. God het toe vir elke volk ’n plek gegee om te bly. Hy het ook besluit hoe lank hulle daar sou bly.

27. God wil hê dat al die volke op die aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal.”

28. “Omdat God so baie vir ons omgee, sorg Hy dat ons almal elke dag kan leef en rondbeweeg. Ons bestaan slegs omdat Hy dit so wil. Een van julle digters het dit mooi opgesom toe hy gesê het:

29. ‘Ons is deur God gemaak. Ons behoort aan Hom.’“As dit dan waar is dat ons almal aan God behoort en dat ons van Hom af kom, is dit mos dom om te dink dat iemand ’n beeld van Hom kan maak. Dit is blote menslike vindingrykheid om afgodsbeelde te maak.

30. “Vir ’n lang tyd het die meeste mense op aarde niks van God af geweet nie. Gelukkig het Hy dit nie teen hulle gehou nie. Maar daardie dae is nou vir goed verby. Nou vertel ek julle die waarheid oor Hom sodat julle en al die ander mense op aarde kan ophou om in sonde te leef.

31. “Want God het besluit dat daar ’n dag sal aanbreek waarop Hy almal op die aarde regverdig gaan oordeel. Hy het ’n baie belangrike Man aangestel om op daardie dag as regter op te tree. Hierdie Man is deur God lewendig gemaak nadat Hy dood was. Almal weet tog al teen hierdie tyd van Hom.”

Handelinge 17