Handelinge 11:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die nuus oor God se werk onder mense wat nie Jode is nie, het soos ’n veldbrand versprei. Die ander apostels en die gelowiges in Judea het ook daarvan te hore gekom.

2. Toe Petrus kort daarna weer in Jerusalem aankom, het sekere gemeentelede wat nog die besnydenis en ander Joodse gebruike streng onderhou het, hom voor stok gekry.

3. Hulle was ongelukkig omdat hy in iemand se huis ingegaan het wat nie besny was nie en boonop saam met hom geëet het. Hulle het dit reguit vir Petrus gesê.

4. Petrus het verduidelik wat gebeur het:

5. “Ek was een middag in Joppe besig om te bid toe ek ’n hemelse gesig sien. Voor my oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor my afgesak.

6. Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls.

7. Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’

8. “‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’

9. “Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’

Handelinge 11