11. Nooit weer sal ’n watervloed alle mense en diere doodmaak nie. Nooit weer sal ’n vloed die hele aarde heeltemal verwoes nie. Ek sal my ooreenkoms met julle hou.”
12. God het verder gesê: “Ek gee vir julle ’n teken van my ooreenkoms, die ooreenkoms wat Ek sluit met alle mense en diere tot in die verre toekoms.
13. Kyk, hoog bo in die wolke sit Ek ’n reënboog. Dit is die teken van die ooreenkoms tussen My en die aarde.
14. Elke keer wanneer dit reën en jy die boog in die wolke sien,
15. sal Ek aan die ooreenkoms dink tussen My en jou en elke lewende wese, dat hulle nooit weer deur ’n watermassa vernietig sal word nie.
16. Telkens wanneer die boog verskyn, sal Ek dit sien en onthou van die ewige ooreenkoms tussen God en elke lewende wese op aarde.”
17. God het toe vir Noag gesê: “Hierdie helder boog is dan die teken van die ooreenkoms wat Ek met almal op aarde gemaak het.”
18. Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, het saam met hom uit die ark gekom. Gam was die voorvader van al die Kanaäniete.
19. Uit hierdie drie seuns van Noag het al die mense op aarde ontstaan.
20. Noag was ’n boer en hy was die eerste mens wat ná die vloed weer ’n wingerd geplant het.
21. Hy het wyn gemaak en daarvan gedrink. Hy het te veel gedrink en dronk geword. Toe het hy sonder klere op sy bed in die tent gaan lê.
22. Toe Gam, die voorvader van al die Kanaäniete, sien dat sy pa kaal in die tent lê, het hy sy twee broers daarvan vertel.
23. Sem en Jafet wou nie hulle pa kaal sien nie en het toe klere gevat, dit oor hulle skouers gegooi en die tent agteruit binnegestap. Terwyl hulle anderpad kyk, het hulle die klere oor hulle pa gegooi.
24. Toe Noag weer nugter was, het hy gehoor wat sy jongste kind aan hom gedoen het.
25. Hy het toe vir hom gesê: “Gam, oor jou sal dit met die Kanaäniete sleg gaan. Hulle sal nog eendag vir jou broers werk.”