Genesis 27:23-35 Die Boodskap (DB)

23. Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau.

24. Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?”Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.”

25. Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee.

26. Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.”

27. Jakob het nader gekom en sy pa gesoen. Isak het die reuk van Esau se klere geruik en Jakob geseën.“Werklik, my seun se reuk is soos die reuk van die vrugbare veld, die veld wat die Here geseën het.

28. Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn.

29. Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.”

30. Isak het Jakob skaars klaar geseën en Jakob was net van sy pa af weg, toe Esau van sy jagtog terugkom.

31. Hy het ook lekker kos gemaak en dit vir sy pa gevat. Hy het ook vir sy pa gesê: “Pa, sit regop en eet die lekker wildskos wat ek vir Pa gemaak het. Daarna kan Pa my seën.”

32. Verskrik het Isak gevra: “Wie is jy dan?”Esau het geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste kind.”

33. Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.”

34. Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!”

35. “Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.”

Genesis 27