Genesis 27:2-15 Die Boodskap (DB)

2. Isak sê toe vir hom: “Kyk, ek is oud en kan enige tyd sterf.

3. Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe. Skiet daar vir my ’n stukkie wild.

4. Maak dan vir my lekker wildskos soos ek daarvan hou. As die kos reg is, moet jy dit vir my bring sodat ek kan eet en jou nog kan seën voordat ek doodgaan.”

5. Rebekka het elke woord gehoor wat Isak vir sy seun gesê het. Nadat Esau veld toe is om iets vir sy pa te skiet, het sy vinnig na Jakob toe gehardloop en uitasem gesê:

6. “Luister, ek het gehoor wat jou pa vir Esau gesê het.

7. Hy het gesê Esau moet vir hom ’n stukkie wild gaan skiet en lekker kos maak. Na die ete wil jou pa hom dan seën. Jou pa wil dit doen voordat hy sterf. Hy het ook gesê dit is die wil van die Here dat hy Esau seën.

8. Jakob, moet nou nie teëpraat nie. Maak presies soos ek sê.

9. Gaan baie vinnig kraal toe en kry vir my twee lekker vet bokkies. Ek sal dit dan gaarmaak en vir jou pa sy lieflingdis voorsit.

10. Jy moet dit dan vir jou pa vat en sorg dat hy dit eet. Hy sal jou dan seën in die plek van Esau, voor hy doodgaan.”

11. Jakob het Rebekka geantwoord: “Ma, dit gaan nie werk nie. Esau is harig terwyl my vel glad is.

12. Sê nou Pa wil aan my vat. Hy sal dink ek spot met hom en sal my nie wil seën nie. Dan bring ek ’n vervloeking oor my eerder as ’n seën.”

13. Sy ma het geantwoord: “Toe maar, jou ellende sal oor my kom. Doen net wat ek vir jou sê en gaan haal die bokkies wat ek jou gevra het.”

14. Jakob is toe weg en het gedoen wat sy ma gesê het. Hy het alles vir haar gebring en sy het lekker kos vir sy pa gemaak, kos waarvan hy gehou het.

15. Rebekka het haar oudste, Esau, se beste klere geneem en dit vir Jakob, haar jongste, aangetrek.

Genesis 27