Genesis 27:19-29 Die Boodskap (DB)

19. Jakob sê toe vir sy pa: “Dit is ek, Esau, Pa se oudste kind. Ek het gedoen soos Pa gesê het. Sit nou gemaklik sodat Pa van my lekker wildskos kan eet. Daarna kan Pa my seën.”

20. Isak wou egter weet hoe hy so vinnig die wild opgespoor het. Jakob het geantwoord: “Pa se God, die Here, het my gehelp.”

21. Isak het toe vir Jakob gesê: “Kom ’n bietjie nader sodat ek kan voel of jy regtig my seun Esau is of nie.”

22. Jakob het nader aan sy pa gekom. Isak het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is Esau s’n.”

23. Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau.

24. Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?”Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.”

25. Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee.

26. Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.”

27. Jakob het nader gekom en sy pa gesoen. Isak het die reuk van Esau se klere geruik en Jakob geseën.“Werklik, my seun se reuk is soos die reuk van die vrugbare veld, die veld wat die Here geseën het.

28. Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn.

29. Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.”

Genesis 27