Genesis 24:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Ek gaan vir een van hulle vra: ‘Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou emmer om te drink,’ en as sy sê: ‘Drink gerus en bring ook jou kamele dat ek hulle kan water gee,’ sal ek weet dit is die vrou wat U vir Isak aangewys het. Dit sal ook die teken wees dat U aan meneer Abraham gedink het en dat U al die beloftes aan hom onthou het.”

15. Voordat hy nog klaar gebid het, het Rebekka met ’n waterkruik op haar skouer daar aangekom. Sy was die dogter van Betuel. En Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou, Milka.

16. Rebekka was ’n baie mooi jongmeisie wat nog glad nie by ’n man geslaap het nie. Sy het by die fontein se trappies afgestap, gebuk, haar kruik volgemaak en toe teruggestap.

17. Abraham se werker het haar heeltyd dopgehou en toe gesê: “Kan ek asseblief ’n bietjie van die water in jou kruik kry?”

18. Sy het gesê: “U is welkom, Meneer. Drink gerus.” Sy het vinnig die kruik van haar skouer afgetel en so gehou dat hy kon drink.

19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek gee sommer vir jou kamele ook water. Hulle kan drink soveel as wat hulle wil.”

20. Sy het toe die res van die kruik se water in die trog gegooi en is op ’n drafstap fontein toe om nog te kry. So het sy aangehou totdat al die kamele klaar gedrink het.

21. Abraham se werker het alles eenkant staan en dophou. Hy wou sien of die Here sy reis voorspoedig sou maak.

22. Na die kamele klaar gedrink het, het hy ’n duur, goue ring gevat en dit vir haar gegee. Hy het ook twee kosbare, groot goue armbande geneem en dit om haar arms gesit.

23. Daarna het hy haar gevra: “Wie is jou pa? Is daar dalk plek in sy huis vir my en my mense om te oornag?”

Genesis 24