Genesis 23:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Sara, Abraham se vrou, het gesterf. Sy was 127 jaar oud.

2. Sy is in Kirjat-Arba dood. Dit was ’n plek in Kanaän wat tot vandag toe Hebron genoem word. Abraham was hartseer oor Sara se dood en het lank oor haar gehuil.

3. Toe het hy met die begrafnisreëlings begin. Hy is na die Hetiete toe en het vir hulle gesê:

4. “Menere, soos u weet, is ek maar ’n vreemdeling tussen u en besit ek geen grond nie. My vrou is dood en ek wil haar graag begrawe. Vandag vra ek u ’n stukkie grond vir ’n graf.”

5. Die Hetiete het toe vir Abraham gesê:

6. “Dit is goed so, Meneer. U is soos ’n prins van God tussen ons. U kan die beste grond kry. Ons wil almal hê dat u u vrou hier begrawe. Ons ken u en ons weet dat u naby aan God leef.”

7. Abraham het toe laag voor die Hetiete, die mense wat in die land bly, gebuig en vir hulle gesê:

8. “U is baie goed vir my, want u gee my grond sodat ek my vrou kan begrawe. Nou wil ek u versoek om tog met Efron, seun van Sohar, te praat,

9. en vir hom te vra om die grot van Magpela aan my te verkoop. Hy besit dit en dit is aan die rand van sy grond geleë. Ek sal hom sy volle prys betaal. Ons kan die transaksie sommer hier voor u almal afhandel.”

10. Efron was ’n gesiene man. Hy het in die stad se poort saam met al die ander belangrike Hetiete gesit en na Abraham se versoek geluister.

11. Efron het geantwoord: “Nee, Meneer, dit is nie nodig nie. U hoef my niks te betaal nie. Voor al my mense gee ek u vandag die grond met grot en al. U kan sommer vandag nog u vrou daar gaan begrawe.”

12. Abraham het weer voor almal gebuig.

13. Hy het met Efron voor al die ander dorpsraadslede in die poort gepraat. “Meneer, baie dankie. U is werklik goed vir my, maar ek wil eerder die grond by u koop. As ek dit gekoop het, kan ek my vrou daar begrawe.”

14. “Goed dan,” het Efron gesê. “Laat ons tog nie stry nie.

15. Jy kan alles vir vier en ’n half kilogram silwer kry. Dan kan jy jou vrou gaan begrawe.”

Genesis 23