Genesis 17:17-27 Die Boodskap (DB)

17. Vir Abraham was dit net een te veel. Hy het vooroor geval en saggies begin lag. Hy sê toe vir homself: “Kan ’n ou man van 100 nog ’n kind maak? En kan Sara nog ’n kind in die lewe bring? Sy is al ’n ou vrou van 90. Dit kan tog nie gebeur nie.”

18. Abraham maak toe sy keel skoon en sê: “Here, daar is mos nog die ander seun, Ismael. Wil U hom nie eerder vat en vir hom goed wees nie?”

19. God het egter geantwoord: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n kind in die lewe bring. En jy moet hom Isak noem (wat beteken: ‘God was goed en het geglimlag’). Ek sal my ooreenkoms met hom ook nakom. Ek verbind My vir altyd aan hom en sy kinders. Ek sal sy God en sy kinders se God wees.

20. Ter wille van jou sal Ek ook vir Ismael goed wees. Ek sal vir hom goed wees en hy sal ’n groot nageslag hê. Uit sy kinders sal ’n groot nasie kom met twaalf belangrike volksleiers.

21. Maar My hart is veral by Isak, by die kind wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring.”

22. Toe God klaar met Abraham gepraat het, was Hy net weer weg.

23. Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun, Ismael, en al sy werkers gevat en hulle besny. Of ’n werker deel van Abraham se huishouding was en of Abraham hom later gekoop het, het nie saak gemaak nie. Elke man is besny, soos God vir Abraham gesê het.

24. Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is,

25. en Ismael 13 jaar.

26. Albei is saam op dieselfde dag besny,

27. so ook al sy werkers. Of hulle deel van sy huishouding was en of hulle van vreemdelinge gekoop is, hulle is almal besny.

Genesis 17