10. Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig.
11. Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is.
12. My liewe broers en susters, dit wat ek nou net gesê het, is belangrik. Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie! Onthou, God hou julle dop.Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke.
13. Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk.
14. Doen alles sonder om te kla of te stry.
15. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is.
16. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie.
17. Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien.
18. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.
19. Ek hoop om Timoteus gou na julle toe te stuur, want dit is wat die Here Jesus wil hê.
20. Ek kan aan niemand anders dink wat soveel vir julle omgee as hy nie.
21. Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.