1. Toe het 7 Maart van die volgende jaar aangebreek, die dag waarop die koninklike proklamasie in werking moes tree en waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle in hulle mag te kry. Maar op dié dag het presies die teenoorgestelde gebeur. Dit was nou die Jode wat hulle vyande oorweldig het.
2. Hulle het in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros se ryk bymekaargekom om hulleself te verdedig teen enigiemand wat hulle kwaad probeer aandoen het. Maar niemand wou so ’n kans waag nie, want almal was te bang vir hulle.
3. Om die waarheid te sê, al die bestuurders van die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander mense in die koning se diens het hulle eerder gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.
4. Want Mordegai het alreeds ’n hoë posisie in die paleis beklee en het by die dag magtiger geword.
5. Maar die Jode het hulle teëstanders met die swaard uitgeroei. Hulle het hulle vyande doodgemaak en vermorsel. Met almal wat hulle gehaat het, het hulle gedoen net wat hulle wou.
6. In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak.
11. Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.
12. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.”
13. Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.”
14. Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel.