Esra 4:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Regum, die man wat die Perse as goewerneur vir die gebied aangestel het om dit vir hulle te regeer, en sy sekretaris wat sy skryfwerk doen, het ook vir Artasasta ’n brief geskryf oor Jerusalem.

9. Dié brief is geskryf onder die naam van die goewerneur Regum, die sekretaris Simsai en hulle kollegas, asook die ander amptenare uit Persië, Ereg, Babel en die Elamiete in Susan

10. en die ander volke wat die beroemde Asenappar uit hulle lande na Samaria en die ander plekke in die Wes-Eufraat soontoe oorgeplaas het.

11. In die brief het gestaan:Aan koning Artasasta! Die brief kom van u amptenare van die Wes-Eufraat.

12. Ons wil hê die koning moet weet dat die Judeërs wat van die ander provinsies hier na ons toe getrek het, besig is om in Jerusalem saam te trek. Hulle is besig om daardie slegte en rebelse stad reg te maak vir oorlog. Hulle het die stad se mure weer begin opbou. Die fondament is reeds klaar.

13. Ons wil betyds vir die koning sê dat hulle gaan ophou om hulle belasting aan die koning te betaal die oomblik dat die stad sterk genoeg is en sy mure herbou is. Die koning gaan dan geld verloor.

14. Omdat ons agter u staan en nie graag wil sien dat u skade ly nie, bring ons hierdie saak dringend onder die koning se aandag.

15. Wanneer u in die geskiedenisboeke van die konings wat voor u regeer het gaan kyk, sal u sien dat Jerusalem nog altyd moeilikheid gemaak het. Van lankal af al wou hulle niks weet nie en het hulle dit moeilik gemaak vir die Persiese koning en die ander volke in die provinsies. Dit is ook die rede hoekom die stad destyds verwoes is.

Esra 4