Esegiël 48:1-11 Die Boodskap (DB)

1. “So moet jy die land onder die stamme van Israel verdeel. Die gebied wat jy vir die stam van Dan moet gee, is in die noorde van die land. Die grenslyn loop van Getlon, oor Lebo-Hamat en Gasar-Enan tot waar die noordgrens van Damaskus teen Hamat raak. Dan se gebied strek oor die hele gebied van Israel, van die oostekant af tot aan die westekant.

2. Aser se gebied is suid van dié van Dan en loop ook van oos na wes.

3. Naftali se gebied is suid van Aser, ook van oos na wes.

4. Manasse se gebied is suid van Naftali.

5. Suid van Manasse se gebied is Efraim,

6. en dan Ruben, en dan

7. Juda. Hulle almal se grense strek van die oostekant tot die westekant van die land.

8. “Suid van Juda se gebied is die stuk grond wat julle eenkant moet sit wat aan My behoort. Hierdie stuk grond moet twaalf en ’n half kilometer breed wees en net so lank as die ander stroke, van die oostelike tot by die westelike grens. Die huis van die Here moet in die middel van hierdie gebied wees.

9. Hierdie stuk grond moet twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed wees.

10. Die res van die grond moet aan die mense wat vir My werk, gegee word. Dit moet ’n strook wees van twaalf en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die huis van die Here staan in die middel hiervan.

11. Die grond behoort aan die mense wat in my diens staan, die kleinkinders van Sadok. Hulle het baie lank hard in my huis gewerk. Hulle het nie die slegte dade gedoen wat die Israeliete en die ander mense gedoen het wat in my huis gewerk het nie.

Esegiël 48