2. Die volgende oomblik het die Here daar aan ons verskyn. Uit die oostekant uit het die God van my volk Hom op ’n spesiale manier aan ons bekendgemaak. Toe die Here praat, het dit geklink soos groot riviere wat oor hulle walle stroom. Hy het soos ’n helder lig, soos die son, geskyn. Alles was verlig rondom ons.
3. Wat ek hier van Hom gesien het, was dieselfde as daardie dag toe Hy my die opdrag gegee het om aan te kondig dat Jerusalem verwoes gaan word. Dit was ook dieselfde as wat ek langs die Kebarrivier gesien het. Ek het op my gesig voor die Here neergeval.
4. Toe het die Here deur die oostelike ingang in sy huis ingegaan.
5. Dit was of die Gees van die Here my optel en my saamvat. Die volgende oomblik het ek in die voorste deel van die huis van die Here gestaan. Die hele huis was vol van die Here se teenwoordigheid.
6. Die man wat die huis van die Here gemeet het, het langs my gestaan. Toe hoor ek Iemand praat met my. Dit was die Here self.
7. Hy het vir my gesê: “Mens, hierdie huis is waar Ek bly. Ek sit hier en regeer oor die aarde. Hier sal Ek altyd teenwoordig wees tussen die Israeliete. Hierdie volk en die mense wat oor hulle regeer, sal nie weer slegte dade pleeg nie. Hulle sal nie meer voor afgode buig nie. En hulle sal ook nie weer hulle konings hier in my huis begrawe ná hulle dood en dan nog vir hulle grafstene in my huis oprig nie.
8. Die konings was so verwaand dat hulle hulle blyplek reg langs my huis gebou het. Daar was net ’n muur tussen my huis en hulle huis. En dan het hulle die afskuwelikste dinge gedoen hier reg voor My! Daarom het Ek vir hulle kwaad geword en hulle gestraf. Nou bestaan hulle nie meer nie. Ek het hulle vernietig.
9. As hierdie volk ophou om voor afgode te buig en hulle vat al die lyke van hulle konings uit my huis uit, sal Ek weer tussen hulle woon.
10. “Gaan vertel vir jou volk hoe die huis van die Here lyk. Dalk kry die volk skaam as hulle hoor hoe sleg dit hier in my huis gaan. Wys hulle op ’n plan van die huis van die Here hoe dit hier lyk.
11. En as hulle dan skaam kry, vertel hulle hoe Ek my huis wil laat lyk. Vertel hulle van die ingange en uitgange van die gebou en die kamers en alles wat Ek hier wil doen. Skryf dit alles op sodat hulle nie sal vergeet nie. Hulle moet die binnekant van die huis van die Here leer ken en weet hoe ’n mens moet optree as jy in my huis kom. Hulle moet doen wat Ek hulle beveel.
12. Wat hulle moet weet, is dat die hele area waar my huis staan, op die top van die berg en die gebied daar rondom, opsy gesit is vir spesiale diens aan My. Daar mag ’n mens slegs met die dinge van die Here besig wees.”
13. So lyk die altaar. Rondom die altaar was ’n voor waarin water kon wegloop. Hierdie voor was ’n halwe meter diep en net so breed. Sy rand rondom was ’n kwart meter breed.
14. Die altaar was van die voor af na die onderste vlak ’n meter hoog. Hierdie onderste vlak was ’n halwe meter wyer as die volgende vlak. Van die onderste na die boonste vlak was die hoogte twee meter. Die heel boonste vlak was ’n halwe meter wyer as die plek waar vuur gemaak word.