Esegiël 39:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Daar sal so baie lyke wees dat dit die mense van Israel sewe maande lank sal vat om almal te begrawe.

13. Elkeen in die land sal moet help. Israel gaan vir lank feesvier die dag as Ek hulle vyande voor die voet doodmaak. Daardie dag gaan Ek vir Israel wys wie Ek is, en hoe sterk Ek is,” sê die Here.

14. “As die sewe maande verby is, sal spesiale spanne aangestel word wat deur die land gaan. Hulle werk sal wees om te soek of daar nie nog geraamtes agtergebly het van soldate wat in die oorlog dood is nie. Hulle sal al die geraamtes wat hulle kry, begrawe. So moet my land weer skoongemaak word.

15. As hulle ’n geraamte kry, sal hulle ’n merk daar regop sit. Agter hulle sal die begrafnisondernemers kom. As hulle êrens ’n merk sien, sal hulle die geraamte daar wegvat. Hulle sal elke geraamte in die Vallei van Gog se Horde Soldate gaan begrawe.

16. Naby die begraafplaas sal ’n dorp ontstaan. Hulle sal die dorp vernoem na die horde soldate wat daar begrawe is.”

17. “Roep nou eers al die voëls en die wilde diere bymekaar,” sê die Here, die God van Esegiël. “Sê vir hulle: Kom bymekaar! Ek maak vir julle ’n groot ete reg! Julle gaan feesvier! Kom van oor die hele land, van die ooste tot die weste. Kom na die berge toe. Daar gaan vir julle genoeg vleis wees om te eet en genoeg bloed wees om te drink!

18. Kom eet die vleis van sterk soldate. Drink die bloed van die leiers van volke. Ek maak hierdie mense soos vet diere wat gevrek het. Julle kan hulle kom opvreet.

19. Kom vreet tot julle nie meer kan nie. Kom drink bloed tot julle dronk is daarvan. Ek het hierdie fees vir julle gereedgemaak.

20. Kom vreet die perde en hulle ruiters en al die sterk en dapper soldate. Kom vreet tot julle genoeg het,” sê die Here, die God van Esegiël.

21. “So wys Ek vir die nasies wie Ek is, en hoe sterk Ek is. Hulle sal sien wat gebeur as Ek mense straf. Hulle sal voel hoe dit is as Ek, die sterk God, mense verwoes.

22. Daarna sal Israel ook baie goed verstaan wie Ek is. Hulle sal sien wat Ek doen as Ek kwaad word. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

23. “Dan sal die nasies ook verstaan hoekom Ek toegelaat het dat vyande my volk as gevangenes wegvoer om in vreemde lande te gaan bly. Dit is hoe Ek hulle vir hulle sonde gestraf het. Hulle het nie gedoen wat Ek hulle beveel het nie. Daarom het daar ’n dag gekom dat Ek my rug vir hulle gedraai het. Toe het Ek toegelaat dat hulle vyande hulle doodmaak en verwoes.

24. Ek het nie meer na hierdie volk gekyk nie. Ek het hulle gestraf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle straf het ooreengestem met die slegte dinge wat hulle gedoen het.”

25. Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sal my volk terugbring van waar hulle nou as gevangenes in ’n ver en vreemde land sit. Ek sal hulle weer goed behandel. Ek sal hulle nie verder straf vir die slegte dinge wat hulle gedoen het nie. Want Ek moet my Naam beskerm voor mense wat sleg praat en sê Ek kan nie behoorlik sorg vir die volk wat Ek uitgekies het nie. Hulle sê dit omdat my volk as gevangenes weggevat is uit hulle eie land.

Esegiël 39