13. “Dan sal die mense van Skeba, Dedan en die mense wat besigheid in Tarsis doen, vir jou vra: ‘Hoekom het jy daardie land se besittings vir jouself gevat? Wie is jy dat jy die mense van hulle geld en besittings kan beroof? Wie is jy om hulle skape en beeste na jou eie land terug te jaag? Hoe kan julle hierdie mense arm maak?’
14. “Daarom, hoor wat die Here vir Gog sê. So sê die Here, die God van Esegiël: My volk sal in vrede in hulle eie land woon. Dan sal jy gereedmaak om hulle aan te val.
15. Jy sal kom met al jou soldate en hulle perde en hulle wapens. Jy sal ’n baie groot weermag saam met jou bring.
16. As julle hier aankom, sal dit lyk of ’n wolk oor die land getrek het, so baie sal julle wees. Dit sal iewers in die toekoms gebeur. Ek laat julle teen my land optrek. Die hele wêreld sal kyk terwyl dit gebeur. En dan sal Ek julle wys wie Ek is. Jy sal My leer ken uit wat Ek met jou gaan laat gebeur. Hierna sal al die nasies erken dat Ek die Here is.”
17. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek het lank terug al oor jou gepraat. Toe het Ek vir my volk deur die boodskappers wat Ek na hulle toe gestuur het, gesê dat Ek jou teen my land en my volk sal laat optrek.
18. “Daardie dag as Gog die land binneval, sal Ek woedend word,” sê die Here.
19. “Ek sal jaloers wees op my volk. En Ek sal kwaad wees vir jou, Gog. Die land sal skud asof ’n aardbewing hom getref het as Ek met jou afreken.
20. Alles wat lewe - selfs die visse, en al die voëls en diere en mense - sal daardie dag bewe van skrik. Want julle sal My sien. Die berge sal platgevee word. Die rotse sal verkrummel. Mure sal omval voor My.
21. Jou soldate sal mekaar begin aanval en doodmaak, so deurmekaar sal dit wees.
22. Ek sal jou en jou soldate straf. Julle sal deur oorlog en siekte doodgemaak word. Ek stuur swaar reën en haelstene en vuur en brandende swael om julle te straf.
23. Só sal Ek Myself aan die nasies bewys as die sterke God. Al die nasies sal My dan raaksien. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”