Esegiël 34:13-17 Die Boodskap (DB)

13. Maar Ek sal hulle gaan soek en hulle veilig terugbring huis toe. Ek bring hulle terug na hulle eie land toe, na Israel. Ek gaan haal hulle tussen die ander volke uit waar hulle as gevangenes woon. Dan sal Ek vir hulle genoeg kos gee. Hulle sal op die heuwels wei en by die riviere water drink. Hulle sal veilig wees omdat daar oral mense sal wees wat hulle beskerm.

14. Ja, Ek loop voor die skape uit en bring hulle by die beste weiveld. Op die hoogste berge van Israel sal hulle die beste gras kry. En as hulle klaar gewei het, sal hulle veilig lê en rus. Want Ek is daar tussen hulle. Ek beskerm hulle. Ek gee vir my skape net die beste.

15. Van nou af sal Ek self vir my skape sorg. Ek vertrou hulle nie meer aan enigiemand toe nie. My skape sal rustig wees. As hulle rus, sal niks hulle versteur nie.” Dit is die Here, die God van Esegiël, wat so sê.

16. “Ek sal self daardie skape gaan soek wat wegdwaal en verlore raak. Ek sal hulle veilig huis toe bring. En as ’n skaap seerkry, sal Ek self vir hom sorg. Ek sal sy wond verbind. Die swak skape sal Ek op my skouers dra. Maar die vet skape wat ander seermaak, sal Ek laat slag. My skape sal goed behandel word, want Ek gee vir hulle om.”

17. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat vir die kleinvee wat aan My behoort, sê: “Julle is my volk. Ek sal sorg dat daar aan die skape en die bokke reg gedoen word. Ek sal hulle leer om mekaar reg te behandel. Ek sal ook nie meer die skape en die bokke tussen mekaar laat wei nie. Nee, hulle sal in twee troppe wei.

Esegiël 34