Esegiël 29:15-21 Die Boodskap (DB)

15. Hy sal nooit weer so belangrik word soos hy was nie. Hy sal nooit weer oor die lande rondom hom heers nie.

16. “Israel sal nooit weer dink dat Egipte hom kan help nie. As Israel sien hoe Egipte vernietig is, sal dit Israel herinner hoe verkeerd hy was toe hy op Egipte vertrou het om hom te help en nie sy hoop op sy Here gestel het nie. Daardie dag sal Israel weet dat Ek, en Ek alleen, die Here God is.”

17. Op die ses en twintigste April 571 v.C. het die Here weer met my oor Egipte gepraat. Dit was toe koning Jojagin al 27 jaar ’n gevangene in ’n vreemde land was. Die Here het vir my oor Egipte gesê:

18. “Mens, die weermag van koning Nebukadnesar van Babilonië het vreeslik hard baklei in hulle oorlog teen Tirus. Die soldate se koppe is kaal geskaaf en hulle skouers rou geskuur, so hard het hulle baklei om Tirus met die grond plat te vee. En tog het koning Nebukadnesar en sy soldate niks gekry wat hulle as buit kon wegvat nie, ten spyte van al hulle harde werk.

19. Daarom gaan Ek, die Here, die God van Esegiël, Egipte vir koning Nebukadnesar van Babilonië gee. Hy sal met sy soldate kom en die land oorwin. En dan sal hy Egipte se rykdom wegdra. Koning Nebukadnesar sal alles waarop hy sy hande kan lê, vir homself vat. Daarmee sal hy sy soldate se loon betaal.

20. Ja, Ek gee Egipte vir hom om vir hom dankie te sê, want hy het Tirus vir My verwoes. Ek het gesê hy moet dit doen. Ek is die Here, Esegiël se God.

21. “Daar gaan ’n dag kom dat Ek Israel in ere herstel. Hy sal weer so sterk en beroemd wees soos in die dae van koning Dawid. Wanneer dit gebeur, sal my volk uiteindelik vir My respek kry. Dan sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.”

Esegiël 29