Esegiël 29:10-15 Die Boodskap (DB)

10. Daarom word Ek jou vyand, en vernietig Ek ook jou rivier. Ek sal die hele land van Egipte verwoes, van die noorde tot die suide toe. Ek sal tot diep in Afrika alles verwoes, so kwaad is Ek vir jou, Egipte.

11. Vir ’n baie lang tyd sal niemand eers deur hierdie land trek nie. Geen mens of dier sal hier kom nie omdat hier niks is nie.

12. Ek maak van Egipte ’n woestyn waarin niks groei en niemand bly nie. En Ek omring Egipte met lande wat net so ’n woestyn sonder inwoners geword het. Die stede van Egipte sal vir ’n lang tyd sonder inwoners wees. En die lande rondom Egipte sal ook sonder inwoners wees. Ek verstrooi die mense van Egipte. Hulle sal as gevangenes na vreemde lande weggevoer word.

13. “Maar,” sê die Here, die God van Esegiël, verder, “aan die einde van die lang tyd wat Ek vasgestel het, bring Ek die mense van Egipte weer terug na hulle eie land toe. Ek gaan haal hulle uit onder die nasies waar hulle as gevangenes gebly het.

14. Dan maak Ek Egipte weer ryk. Daardie dag bring Ek die mense van Egipte terug van waar Ek hulle verstrooi het. Maar Egipte sal dan vir altyd ’n klein volk bly.

15. Hy sal nooit weer so belangrik word soos hy was nie. Hy sal nooit weer oor die lande rondom hom heers nie.

Esegiël 29