Esegiël 28:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir my gesê:

2. “Mens, sê vir die regeerder wat oor Tirus heers: Die Here, die God van Esegiël, sê vir jou: Jy was so trots op wie jy is en wat jy alles besit. Jy het so groot geword dat jy selfs begin sê het: ‘Ek is ’n god! Ek sit op ’n troon op hierdie eiland soos ’n god!’ “Maar jy het vergeet dat jy maar net ’n mens is wat sal doodgaan op sy tyd. Selfs al dink jy jy is ’n god, sal jy op die harde manier uitvind jy is nie.

3. Jy dink jy is slimmer as die profeet Daniël wat drome vir konings kon uitlê. Jy dink jy weet alles. Jy ken alle geheime.

4. Ja, jy het baie geld en besittings bymekaargemaak. Dis waar. Jy kan goed besigheid doen. Jy het baie silwer en goud. En jy is slim.

5. Ja, jou slimheid het jou ryk gemaak. Maar toe word jy trots omdat jy so skatryk is.

6. “Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “omdat jy gedink het jy is slimmer as Ek,

7. bring Ek ’n klomp vyande om teen jou te veg. Ek roep al die nasies nader om jou vyand te word. Hulle sal skielik op jou toesak en jou met hulle oorlogswapens op jou knieë bring. Jy sal onkant betrap word, al is jy so slim en ryk!

8. En hierdie vyande van jou sal jou doodmaak, sonder om genade te bewys. Jy sal daar in jou huis op die eiland doodgemaak word. Jy bly mos in die middel van die see; daarom het jy gedink jy is veilig. Jy sal van jou baie wonde doodgaan.

9. En sal jy dan nog kan spog dat jy ’n god is? Sal jy vir jou vyande wat jou doodmaak, vertel dat hulle nie met ’n gewone mens te doen het nie, maar met ’n god? Hulle sal sien wat jy is: ’n gewone mens wat doodgaan soos enige ander mens.

10. Ja, jy sal doodgaan soos iemand wat weggedryf is uit die geselskap van mense. Vreemde mense wat jy nie ken nie, sal jou doodmaak. Dit is my woord oor jou. Ek is die Here, die God van Esegiël.”

11. Toe praat die Here verder met my. Hy sê:

12. “Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi.

13. Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is.

Esegiël 28