Esegiël 24:3-20 Die Boodskap (DB)

3. En wys dan vir hierdie opstandige klomp mense saam met jou iets. Sê vir hulle dis die Here, die God van Esegiël, wat dit vir hulle wil wys. Sit ’n pot met water op die vuur sodat die water begin kook.

4. Gooi dan goeie kookvleis in die pot: vleis van die boud en die blad van ’n skaap.

5. Gebruik net die beste skaapvleis. Maak ’n ordentlike vuur onder die pot. Kook die vleis, die bene saam met die vleis.

6. “Sê dan vir hulle dis wat die Here, Esegiël se God, vir hulle hierdeur wil sê: Jerusalem gaan definitief verwoes word. Want dit is ’n stad vol mense wat ander doodmaak. Jerusalem is ’n pot vol korrupsie. Haal nou die vleis stuk vir stuk uit. Moenie uitkies watter stuk jy eerste vat nie.

7. Almal kan duidelik sien hoe sleg die stad is. Die mense van die stad pleeg moord en was nie eens die bloed af nie. Die stad probeer nie eens haar slegte dade wegsteek nie.

8. Daarom sal Ek haar bloed ook so laat spat dat enigeen dit sal kan sien. Ek gaan dit doen omdat Ek kwaad is oor wat julle gedoen het en wraak gaan neem daaroor.”

9. So sê die Here, die God van Esegiël: “Jerusalem gaan verwoes word, want dit is ’n stad vol mense wat ander doodmaak. Ek sal self die vuur pak wat onder die pot sal brand.

10. Ja, gee vir My hout aan! Laat die vuur brand sodat die pot kan kook. Kook die vleis saam met baie speserye. Maak dan die pot leeg en los die bene daarin sodat dit in die pot vasbrand.

11. Sit dan die leë pot op die vuur sodat dit kan skoon brand.

12. Wat gebeur? Die pot word nie skoon nie. Hy bly vuil. Dis hopeloos om te dink die vuur sal hom skoon brand.

13. Net so is dit met al julle slegte dade en julle aanbidding van die afgode. Ek het probeer om julle skoon te maak. Maar julle het hardkoppig geweier. Daarom sal julle vuil bly tot Ek my woede oor julle afgekoel en julle gestraf het.

14. Dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Dis nou tyd dat julle gestraf word. En Ek sal julle nie jammer kry nie. Ek sal nie van gedagte verander nie. Julle moet maar julle volle straf dra. Julle sal gestraf word vir al die slegte dade wat julle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.

15. Toe sê die Here vir my:

16. “Mens, Ek gaan jou kosbaarste skat, jou vrou wat jou soveel vreugde gebring het, van jou af wegvat. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag nie vir een oomblik wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag geen traan stort nie.

17. Jy mag sug, maar net saggies. Ook as julle haar begrawe, mag jy nie hard huil nie. Jy mag op geen manier verraai dat jou hart stukkend gebreek is deur jou vrou se dood nie. En as vriende jou wil troos of vir jou kos wil bring omdat jou vrou nie meer daar is om vir jou te sorg nie, mag jy dit nie aanvaar nie.”

18. Ek het die volgende oggend vir my mense gesê wat die Here gesê het. En daardie aand is my vrou dood. Die volgende oggend het ek alles presies gedoen soos die Here vir my gesê het om te doen.

19. Toe vra die mense vir my: “Hoekom maak jy so? Wat beteken dit wat jy doen? Wat probeer jy vir ons sê?”

20. Toe sê ek vir hulle: “Die Here het vir my gesê om met julle te praat deur wat gebeur het en wat ek gedoen het.

Esegiël 24