Esegiël 24:11-24 Die Boodskap (DB)

11. Sit dan die leë pot op die vuur sodat dit kan skoon brand.

12. Wat gebeur? Die pot word nie skoon nie. Hy bly vuil. Dis hopeloos om te dink die vuur sal hom skoon brand.

13. Net so is dit met al julle slegte dade en julle aanbidding van die afgode. Ek het probeer om julle skoon te maak. Maar julle het hardkoppig geweier. Daarom sal julle vuil bly tot Ek my woede oor julle afgekoel en julle gestraf het.

14. Dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Dis nou tyd dat julle gestraf word. En Ek sal julle nie jammer kry nie. Ek sal nie van gedagte verander nie. Julle moet maar julle volle straf dra. Julle sal gestraf word vir al die slegte dade wat julle gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.

15. Toe sê die Here vir my:

16. “Mens, Ek gaan jou kosbaarste skat, jou vrou wat jou soveel vreugde gebring het, van jou af wegvat. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag nie vir een oomblik wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag geen traan stort nie.

17. Jy mag sug, maar net saggies. Ook as julle haar begrawe, mag jy nie hard huil nie. Jy mag op geen manier verraai dat jou hart stukkend gebreek is deur jou vrou se dood nie. En as vriende jou wil troos of vir jou kos wil bring omdat jou vrou nie meer daar is om vir jou te sorg nie, mag jy dit nie aanvaar nie.”

18. Ek het die volgende oggend vir my mense gesê wat die Here gesê het. En daardie aand is my vrou dood. Die volgende oggend het ek alles presies gedoen soos die Here vir my gesê het om te doen.

19. Toe vra die mense vir my: “Hoekom maak jy so? Wat beteken dit wat jy doen? Wat probeer jy vir ons sê?”

20. Toe sê ek vir hulle: “Die Here het vir my gesê om met julle te praat deur wat gebeur het en wat ek gedoen het.

21. So sê die Here, die God van Esegiël, vir die volk Israel: Ek gaan toelaat dat my eie huis besoedel word. Daardie huis waar Ek gebly het en waarop julle so trots was. Julle kon daar gaan skuil. Julle seuns en julle dogters in Judea sal ook deur die swaard doodgemaak word.

22. Daardie dag as dit gebeur, sal julle soos Esegiël maak. Julle sal nie openlik huil nie. En julle sal nie getroos word as julle vriende julle troos en vir julle kos bring nie.

23. Julle sal nie kan wys dat julle hartseer is nie. Julle sal nie kan huil en treur nie. Want julle sal uitteer omdat Ek julle sal straf vir al die slegte dinge wat julle gedoen het. Julle sal huil waar niemand julle kan sien nie oor al die slegte dade wat julle gedoen het.

24. Esegiël is ’n voorbeeld vir julle. Julle sal doen soos hy nou gedoen het. As daardie tyd aanbreek, sal julle weet en erken dat Ek die Here is.”

Esegiël 24