Esegiël 23:39-49 Die Boodskap (DB)

39. Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor hulle afgode vermoor het, het hulle in my huis ingestap en gedink hulle kan My ook aanbid!

40. “Julle twee susters het boodskappers na verre lande gestuur en gevra dat die mans van daardie lande by julle moet kom slaap. En toe hulle by julle aankom, het julle julle gebad en grimering aangesit. Julle het julle beste juwele uitgehaal en vir hierdie mans aangesit.

41. En julle het saam met hulle op julle beste meubels gaan sit. Toe het julle die wierook en olie wat Ek vir julle gekoop het, uitgehaal en dit vir hierdie mans gebruik.

42. Uit julle slaapkamer het die geluide gekom van mans wat by julle slaap. En hierdie mans wat uit die woestyn gekom het, was eintlik ’n klomp dronklappe. Maar hulle het julle beïndruk, want hulle het duur juwele vir julle saamgebring. Hulle het gesê julle is hulle koninginne.

43. Dis toe dat Ek gesê het: As hierdie mans dan nou regtig by sulke vroue wil slaap wat hulleself aan slegte dade oorgegee het, laat hulle dan maar daar slaap!

44. En dit is presies wat hulle gedoen het. Hulle het geslaap by Ohola en Oholiba, die twee prostitute wat geen skaamte ken nie.

45. Die mense wat reg leef, sal besluit wat met hierdie twee susters, die twee stede, gedoen moet word. Hulle sal hulle sien vir wat hulle is: vroue wat by ander mans slaap en mense doodmaak. En hulle sal hulle straf met die straf wat hulle verdien.”

46. So besluit die Here, die God van Esegiël, oor die twee susters: “Bring ’n hele leërmag teen hulle. Laat die soldate hulle vernietig en verwoes.

47. Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en hulle doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand.

48. So sal Ek ’n einde maak aan hierdie land se slegte dade en hulle aanbidding van afgode. As Ek hierdie land straf, sal dit ander waarsku sodat hulle nie doen wat julle gedoen het nie.

49. Julle sal elke sent betaal van die skuld van julle slegte dade en julle aanbidding van afgode. Ja, Ek sal julle straf soos dit hoort. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here God is.”

Esegiël 23