Esegiël 20:19-34 Die Boodskap (DB)

19. Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel.

20. Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is.

21. “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het.

22. Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei.

23. Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi

24. omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het net gedoen wat hulle wou. Hulle het nie op die sewende dag gerus nie. En hulle het voor die afgode van hulle voorouers neergebuig.

25. “Daarom het Ek toegelaat dat hulle gewoontes aanleer wat geen waarde het nie en wat hulle uiteindelik hulle lewe sal kos.

26. Ek het hulle gelos dat hulle hulle lewe verwoes met die goeie geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het maar net toegekyk hoe hulle hulle oudste kinders aan afgode wy deur hulle as offers te verbrand. Ek het dit toegelaat sodat die dag kon kom waarop Ek hulle sou vernietig. Dan sou Ek vir hulle duidelik wys dat Ek, en Ek alleen, die Here is.”

27. “Daarom moet jy vir die mense van Israel hard en duidelik sê wat Ek, die Here, Esegiël se God, sê: Julle oupas en oumas het aangehou om My te beledig en in die rug te steek.

28. Kort nadat Ek hulle die pragtige land gegee het wat Ek hulle belowe het, het hulle offers en wierook oor die hele land vir hulle afskuwelike afgode verbrand. Hoe kwaad het Ek nie geword nie! Hulle het voor elke afgod gebuig. Hulle het olies wat lekker ruik en wierook gebring en hulle afgode daarmee aanbid.

29. Ek het vir hulle gevra: Waarheen gaan julle? Hoekom loop julle na elke hoë plek? (Israel bring vandag nog sy afgodsoffers op sulke hoë plekke.)

30. “Daarom moet jy vir die volk gaan sê die Here, die God van Esegiël, sê: Julle het julle lewe verwoes deur nikswerd afgode te aanbid. Julle oupas en oumas het dit ook gedoen. Julle was soos ’n getroude vrou wat by ander mans gaan slaap. Julle het My verruil vir afskuwelike afgode.

31. Julle het geskenke vir julle afgode gebring. Julle het julle kinders as offers vir hulle verbrand. En nou kom sit julle ewe vroom en vra dat Esegiël My moet vra om julle te help! Moet Ek na julle luister, Israel? Die Here, Esegiël se God, wil by julle weet: Moet Ek My deur julle laat raadpleeg? So seker as wat Ek leef, Ek sal nie met julle praat nie. Ek het niks om vir julle te sê nie.

32. “Julle sê: ‘Ons wil soos die ander nasies maak. Ons wil ook gode hê wat van hout en klip en metaal gemaak is.’ Maar julle moet dit weet: dit sal vir seker nie gebeur nie.

33. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek sal julle met ’n ystervuis slaan. Ek sal julle in my woede bykom en platslaan.

34. Met groot krag sal Ek julle tussen die ander nasies uitlei uit die land waar julle gevangenes is, ’n ver en vreemde land.

Esegiël 20