Esegiël 16:51-63 Die Boodskap (DB)

51. “Selfs Samaria, die ryk van Jerobeam, het nie helfte van die slegte dinge gedoen wat jy doen nie, Israel. Jy het baie slegter dinge gedoen as wat hulle ooit kon uitdink. Trouens, as jy Samaria en Sodom langs jou sit, lyk dit of hulle goeie mense was!

52. Jy behoort jou te skaam. Jou slegte dade is afskuwelik! Jou susters lyk onskuldig as hulle langs jou gaan staan.

53. “Eendag gaan Ek Sodom en Samaria en hulle dogters weer opbou. En Ek sal jou ook weer opbou.

54. Daardie dag sal jy behoorlik skaam wees oor al die slegte dinge wat jy teen My gedoen het. Jou susters lyk goed teen jou.

55. Ek sal jou susters, Sodom en Samaria en hulle dogters, red en hulle weer help. Dan sal Ek jou ook red en help.

56. Jy het mos so gespog dat jy soveel beter is as Sodom. Jy was so vol van jouself.

57. Maar nou wys Ek al jou afskuwelike dade vir die hele wêreld. En hulle almal sien op jou neer. Hulle loop en spot met jou, jou bure. Die Edomiete en die Filistyne lag as hulle na jou kyk.

58. Dit is jou straf. Ek straf jou oor jou afskuwelike, slegte dade,” sê die Here.

59. Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou vir jou: “Ek gee vir jou presies net wat jy verdien. Jy het jou belofte verbreek dat jy aan My getrou sal wees toe jy met My getrou het.

60. Ek maak nie so nie. Ek bly getrou aan jou omdat Ek - toe jy nog jonk was - belowe het dat Ek by jou sal bly. Ek hou my beloftes wat Ek aan jou gemaak het, vir ewig.

61. “Daarom gaan jy nog eendag skaam kry oor jou slegte dade. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Ek jou susters vat, die een ouer as jy en die een jonger as jy, en hulle jou dogters maak. Ek sal ook beloftes aan hulle maak wat Ek nie sal breek nie.

62. En Ek sal weer my belofte aan jou maak. Jy sal dan weet en erken dat Ek die Here is.

63. Dan sal jy aan jou slegte dade dink en baie skaam kry. Jy sal so skaam wees dat jy nie ’n woord sal uitkry nie. Dit sal gebeur op daardie dag as Ek jou vergewe vir al die slegte dinge wat jy aan My gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.

Esegiël 16