Esegiël 13:7-15 Die Boodskap (DB)

7. Julle sê julle het die Here gesien en Hy het met julle gepraat. Julle sê dat die Here self aan julle verskyn het. Hoe kan dit wees as Ek nie eens met julle gepraat het nie?

8. “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: Omdat julle lieg en valslik sê dat julle van My gehoor en My gesien het, sal Ek self julle vyand word. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.

9. Ek sal hierdie mense wat lieg en sê dat hulle namens My praat, met die vuis bykom. Ek sal hulle almal wegjaag sodat hulle nie meer tussen julle sal kan bly nie. Nie eens hulle name sal ooit weer in hierdie volk se sensus voorkom nie. En hulle sal nooit weer hulle vaderland sien nie omdat Ek hulle wegjaag na ’n vreemde land. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.

10. “Hierdie mense het my volk op die verkeerde paaie laat loop. Hulle het gesê alles sal goed gaan, terwyl niks reg geloop het nie. Hulle sê daar sal vrede wees terwyl daar net oorlog op julle wag. Dis of hierdie klomp mense ’n bouvallige muur bou wat nie kan bly staan nie, en dan kom die leuenaars wat sê hulle praat namens My en verf hierdie muur wit sodat dit lyk of hy sterk is. En dan dink hulle boonop die verf sal die muur regop hou.

11. Wel, sê vir al die mense wat hierdie muur verf dat hulle muur binnekort sal omval. Daar gaan ’n swaar reënbui kom, met groot haelstene en ’n sterk wind. En dan sal die muur omval.

12. Daardie dag as die muur val, sal die mense uitroep en vra: ‘Waar is die verf wat julle aan die muur gesit het?’

13. “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou: Ek maak julle geverfde muur gelyk met die grond met die storm wat Ek stuur omdat Ek baie kwaad is vir julle. Die swaar reën en die haelstene wys hoe kwaad Ek is oor julle slegte dade.

14. Ek breek julle muur tot op sy fondament af. En die dag as julle muur omval, val hy bo-op julle. Hy sal julle plat val. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is!

15. “Eers dan sal my woede bedaar teen julle muur en teen almal wat die muur wit geverf het. Dan sê Ek vir julle: die muur en almal wat dit wit geverf het, is weggevee.

Esegiël 13