Esegiël 12:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Gaan sê vir die volk die Here, die God van Esegiël, sê vir hulle die volgende oor wat die toekoms inhou vir Israel en vir die mense wat in Jerusalem bly: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet, so bang sal hulle wees. En hulle sal klein slukkies water drink terwyl hulle wanhopig rondsoek omdat daar nie meer kos en water in hulle land oor sal wees nie. Ek sal hulle land stroop sodat daar geen kos of water sal wees nie. En Ek doen dit omdat hulle so sleg en vol geweld is.

20. Hulle stede sal tot op die grond toe afgebreek word. En niemand sal meer op die plase bly en die lande bewerk nie. Daardie dag sal julle almal weet en erken dat Ek die Here is.”

21. Die Here het weer ’n keer met my gepraat en vir my gesê:

22. “Mens, watter spreekwoord is dit wat Ek hoor wat die mense van Israel deesdae gebruik? Julle sê mos: Die tyd gaan verby. En net mooi niks word waar van al daardie verskriklike dinge wat die mense wat namens die Here praat oor ons aankondig nie.

23. Wel, gaan sê dan nou vir die mense dat die Here, die God van Esegiël, sê: Ek gaan sorg dat julle nooit weer hierdie spreekwoord gebruik nie omdat alles waar sal word wat die mense wat namens My praat julle oor gewaarsku het. Daar sal ’n nuwe spreekwoord onder julle uitgedink word in die plek van die ou een. Julle sal sê: Die tyd het gekom dat alles waaroor die mans van God ons gewaarsku het, net so gebeur het soos hulle vir ons gesê het.

24. “Daardie dag sal julle sien wat kom van al die vals beloftes wat party mense gemaak het, en nogal asof hulle dit van My gehoor het, naamlik dat daar in die toekoms vrede en voorspoed in julle land gaan wees.

25. Het julle vergeet? Ek is die Here. En wat Ek sê, gaan gebeur. Ek het gedreig dat Ek julle oor julle slegte dade gaan straf, en dit sal gebeur. Dit sal binnekort gebeur, sonder dat iets of iemand dit kan keer. Want julle is ’n klomp mense wat heeltyd teen My in opstand is, Israel. Ek sal julle verwoes en vernietig, nes Ek gedreig het Ek met julle gaan doen. En dit gaan nog in julle almal se leeftyd gebeur,” sê die Here, die God van Esegiël.

Esegiël 12