Esegiël 12:10-21 Die Boodskap (DB)

10. Gaan sê nou vir hulle: Die Here, die God van Esegiël, sê dat wat Esegiël gedoen het, ’n boodskap vir koning Sedekia is wat in Jerusalem woon, en vir die mense van Israel wat saam met hom in die land van Israel woon.

11. Verduidelik dan dat wat jy gedoen het, Esegiël, vir die volk wil wys wat baie binnekort met hulle gaan gebeur. Hulle gaan van hulle huise verdryf word. Hulle gaan deur hulle vyande as gevangenes na ’n vreemde land toe gevat word.

12. “Selfs koning Sedekia van Jerusalem sal uit die stad verdryf word. Hy sal een nag deur ’n gat in die stadsmuur moet klim. En hy sal slegs die besittings wat hy op sy skouers kan dra saam met hom vat. Hy sal sy gesig toemaak soos iemand wat as ’n gevangene weggeneem word om die doodstraf te kry vir sy slegte dade. En hy sal nooit weer sy vaderland sien nie.

13. Ek gaan hom vang soos wildvangers ’n verskrikte bok in hulle net vang. En dan sal Ek hom na Babilonië, ’n ver en vreemde land, wegvoer. Hy sal nie die vreemde land kan sien nie omdat sy oë uitgesteek sal wees, en hy sal in daardie vreemde land doodgaan.

14. “Ek sal ook sy helpers en die mense wat hom bedien en die wagte wat hom oppas, saam met hom laat wegneem na die ver en vreemde land. Hulle sal in die oorloë doodgaan.

15. En wanneer hulle in ’n ver en vreemde land sit, sal hulle weet en erken dat Ek die Here is.

16. Ek sal ’n paar van hulle nie laat doodmaak in die oorlog en hongersnood en deur dodelike siektes nie. Hierdie paar mense wat oorbly, sal dan met groot skaamte vir die vyande wat hulle gevang het, vertel van al die slegte dade wat hulle aangevang het. Daardie dag sal hulle almal weet en erken dat Ek die Here is!”

17. Hierna het die Here ook nog vir my gesê:

18. “Mens, bewe van angs en vrees terwyl jy jou kos eet. En word bang elke keer as jy water drink, asof dit die laaste water is wat jy sal hê om te drink.

19. Gaan sê vir die volk die Here, die God van Esegiël, sê vir hulle die volgende oor wat die toekoms inhou vir Israel en vir die mense wat in Jerusalem bly: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet, so bang sal hulle wees. En hulle sal klein slukkies water drink terwyl hulle wanhopig rondsoek omdat daar nie meer kos en water in hulle land oor sal wees nie. Ek sal hulle land stroop sodat daar geen kos of water sal wees nie. En Ek doen dit omdat hulle so sleg en vol geweld is.

20. Hulle stede sal tot op die grond toe afgebreek word. En niemand sal meer op die plase bly en die lande bewerk nie. Daardie dag sal julle almal weet en erken dat Ek die Here is.”

21. Die Here het weer ’n keer met my gepraat en vir my gesê:

Esegiël 12