Esegiël 11:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Julle het aangehou moord pleeg totdat die strate van Jerusalem vol lyke lê.

7. Daarom, sê die Here julle God nou vir julle, sál die stad wel soos ’n ysterpot word. Die mense wat onder julle slegte dade gely het, is soos stukke vleis wat in die ysterpot gegooi is. Maar julle sal glad nie veilig wees nie. Binnekort sleep Ek julle almal uit die stad uit.

8. Julle sal die grootste oorlog sien waarvoor julle nog altyd bang was,” sê die Here die God van Esegiël.

9. “Ek sal julle uit die stad Jerusalem uitjaag, en dan sal Ek julle aan vreemdelinge oorgee wat julle sal straf soos Ek wil hê dat julle oor julle slegte dade gestraf word.

10. Julle sal doodgemaak word die hele pad tot by die grense van julle land. Dan sal julle regtig weet dat Ek die Here is.

11. Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot wees wat julle beskerm nie. Julle sal nie veilig wees teen gevare nie. Ek sal julle straf tot daar teen die grense van julle land.

12. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Want julle het mos geweier om na My te luister. In plaas van na My te luister het julle eerder al die slegte dinge gedoen wat die nasies rondom julle vir julle geleer het.”

13. Terwyl ek nog praat, is Pelatja die seun van Benaja skielik dood. Toe val ek voor die Here neer en roep hard uit: “Here my God, moet U al die mense wat aan Israel behoort dan doodmaak?”

14. Toe het die Here weer met my gepraat:

15. “Mens, die mense wat in Jerusalem oorgebly het, praat oor hulle familielede wat as gevangenes na ’n vreemde land weggeneem is. Hulle sê: ‘Hierdie familie van ons is ver van die Here af, daar waar hulle in ’n vreemde land bly. Daarom het die Here hulle land nou seker vir ons gegee!’

16. Omdat hulle so sê, moet jy vir die mense wat gevangenes in daardie vreemde land is, gaan vertel dat die Here, Esegiël se God, vir hulle sê: Ek het julle verstrooi sodat julle nou die hele wêreld vol is, ver van julle eie vaderland af. Maar onthou dit, Ek sal altyd daar wees vir julle, waar julle ook al is. Ek sal julle beskerm en oppas.

Esegiël 11