Eksodus 40:1-18 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het weer met Moses gepraat:

2. “Jy moet die tent op die nuwejaarsdag, die eerste dag van die eerste maand, oprig. By hierdie tent sal Ek my volk ontmoet.

3. Gaan sit die ark met die bewys van ons ooreenkoms op sy plek in die tent. Hang dan die gordyn voor die ark om dit van die ander deel van die tent af te skerm.

4. Gaan sit ook die tafel op sy plek en rangskik alles wat daarby behoort, rondom hom. Sit ook die ligstaander op sy plek en hang sy lampies op hulle plek aan die staander.

5. Gaan sit die goue altaartjie op sy plek reg voor die gordyn wat voor die ark hang. Hang ook die gordyn by die ingang van die tent op sy plek.

6. Gaan sit die altaar vir die brandoffers buite die tent regoor die ingang na die tent.

7. Sit die koperbak waar die priesters hulle was, tussen die tent en die altaar neer. Maak dit vol water.

8. Sit die linnemure rondom die binnehof op. Hang die gordyn op by die ingang na die binnehof.

9. “Vat dan van die salfolie en gooi daarvan uit oor die tent en alles wat daar binne-in is. Dra die tent en alles wat daar kom aan My op, sodat dit vir My afgesonder kan wees.

10. Gooi ook salfolie oor die brandofferaltaar uit en oor alles wat daarby hoort. Dra die altaar aan My op, sodat dit uitsluitlik aan My gewy kan wees.

11. Wy ook die waskom en sy voetstuk aan My wanneer jy salfolie daaroor gooi.

12. Sê dan vir Aäron en sy seuns om nader te kom na die ingang van die tent van ontmoeting toe. Laat hulle dan hulleself daar met water was.

13. Trek vir Aäron die klere aan wat hy by die tent moet dra. Gooi olie op sy kop uit en stel hom aan in sy werk sodat hy my priester kan wees.

14. Laat sy seuns ook nader kom en hulle spesiale klere aantrek.

15. Gooi op dieselfde manier olie op elkeen van hulle se kop sodat hulle ook my priesters kan wees wat by die tent vir My werk. Wanneer jy hulle vir hulle werk aanstel, sal hulle en hulle nakomelinge vir altyd my priesters wees.”

16. Moses het presies gedoen wat die Here vir hom gesê het.

17. Die tent is aan die begin van die tweede jaar na hulle uit Egipte weg is, op die eerste dag van die jaar, opgeslaan.

18. Moses het die tent opgerig deur eers die voetstukke wat onder die panele kom, in posisie te laat plaas. Die panele is daarop gesit en aan mekaar vasgesluit by die koppelpunte en met die dwarslatte wat deur die ringe kom.

Eksodus 40