Eksodus 4:6-20 Die Boodskap (DB)

6. Die Here het vir Moses ook nog ’n tweede teken gegee. Hy het vir hom gesê: “Steek jou hand in jou klere.” Hy het dit gedoen. Toe hy sy hand uithaal, was dit vol spierwit sere.

7. Die Here sê toe: “Steek weer jou hand in jou klere.” Toe hy dit doen en sy hand weer uittrek, was sy vel soos dit voor die tyd was.

8. Die Here sê toe: “As die eerste teken hulle nie oortuig om jou woord te aanvaar nie, sal hierdie tweede teken dit doen.

9. As hulle selfs na die tweede teken weier om jou te glo en nog steeds nie jou woord wil aanvaar nie, moet jy water uit die Nyl skep en dit op die droë grond uitgooi. Dit sal op die grond in bloed verander.”

10. “Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.”

11. “Wie,” vra die Here hom toe, “dink jy maak dit vir mense moontlik om te praat? Wat maak dat party mense stom en ander doof is, dat party blind is en ander weer kan sien? Is dit nie Ek, die Here, nie?

12. Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.”

13. “Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.”

14. Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.

15. Beduie vir hom wat hy moet sê. Ek sal julle help om te praat en Ek sal vir julle wys wat julle moet doen.

16. Hy sal in jou plek met die volk praat. Hy sal vir hulle sê wat jy wil hê hulle moet hoor.

17. Hou hierdie stok by jou dat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek vir jou gewys het om die volk te oorreed.”

18. Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.”“Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.”

19. Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.”

20. Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou.

Eksodus 4