17. Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit.
18. Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom.
19. Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en hulle vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die sak wat voor die bors kom. Dit is vasgewerk aan die binnekant waar dit teen die skouerkleed kom.
20. Twee verdere ringe is laag af vasgewerk waar die gordel kom, aan die bande van die skouerkleed.
21. Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak.
22. Hulle het die deel wat bo-oor die deel gaan wat oor die skouers is, uit een stuk blou materiaal gemaak.
23. Dit het in die middel ’n gat gehad waardeur die kop gesteek kon word. Die opening is omgeboor en versterk sodat dit nie kon skeur nie.
24-26. Reg rondom die kleed, al op die soom van die kleed, het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk, wat met goue klokkies afgewissel is. Dit was soos die Here gesê het dit moet wees.
27. Hulle het ook vir Aäron en sy seuns stelle klere van fyn linne gemaak vir hulle werk by die tent.
28. Daar was gordels en mooi hoede en linnebroeke en
29. serpe van goed geweefde linne, gestik met blou, pers en bloedrooi wol. Dit was soos die Here gesê het dit moes lyk.
30. Hulle het ook vir Aäron se hoed ’n blom van suiwer goud gemaak. Hulle het met kunstige letters daarop gegraveer: “Vir die Here alleen.”
31. Dit is aan die voorkant van die hoed vasgeknoop met ’n blou toutjie. Dit was alles presies soos die Here vir Moses gesê het dit gemaak moet word.